Ontmoet Pastoor Leon Prinsloo wat al vir baie jare in Groot-Brakrivier en omliggende plase in die bediening werksaam is. Sy storie begin in 1998 toe die voormalige President van die AGS, Dr Izak Burger hom gevra het om ‘n gemeente in Greenhaven te kom plant en vanjaar vier die gemeente al sy 21ste bestaansjaar. Hoë vlakke van kriminaliteit, gebroke huise, huwelike en mense was toe al aan die orde van die dag en is die taak aan hom opgedra om hierdie probleme aan te spreek deur ‘n veilige hawe te vestig wat gees, siel en liggaam moes voed. Grond is bekom en die kerkgebou is in geloof gebou en in 2002 in gebruik geneem. Die pastorie is in 2010 voltooi. Die gemeente het dermate gegroei dat daar nou weer werk gemaak word om ‘n addisionele vleuel aan te bou. Veral nagmaaltye is die kerk stampvol en moet plek gevind word vir nagenoeg 700 lidmate en besoekers.
Bedieninge deur middel van selgroepe word op 17 plase in die omgewing maandeliks gedoen en boere kan getuig dat die kerk nog steeds daagliks ‘n verskil maak in die lewens van hul werkers en gesinne.
Die Wolwedans Gemeenskapsentrum is soos Pastoor Leon dit stel ‘n wonderwerk op sigself. Deur die hulp van ‘n Nederlander, Bert van Walbeek, is fondsinsamelings in Nederland geloods en is die sentrum gebou en soos die bord dit mooi sê – “to the Glory of God and the community”.
Hoewel dit die eiendom van die kerk is, word die saal op verskillende dae veeldoelig aangewend vir ‘n sopkombuis, ‘n satelliet kliniek, naaldwerkklasse, jeug-en kinderbediening , ‘The Challengers’ van die Association for People with Disabilities (APD) en eersdaags ook ‘n Nali’Bali Leesgroep.
Daar bestaan goeie samewerking tussen alle gemeentes in die omgewing en vat hulle mekaar se hande waar nodig.
Pastoor Leon nooi enige iemand wat by gemeenskapsprojekte betrokke wil raak uit om hom te kontak by 0824585430.