23 C
Mossel Bay
1st December 2023
Community & LivingNews

ALGEHELE VERBOD OP TROETELDIERE IN DEELTITELSKEMAS

Die aanhou van troeteldiere in deeltitelskemas was nog altyd ’n omstrede onderwerp. Die Wet op Deeltitelskemas 8 van 2011 maak voorsiening dat ’n deeltitelskema gereguleer en bestuur word deur bestuurs- en gedragsreëls. Die reëls moet redelik wees en in gelyke mate geld vir al die eienaars van die eenhede. Die Ombudsman is verplig om die redelikheid van reëls te oorweeg wanneer hy gevra word om daaroor te beslis.

Die toets wat gebruik word om te bepaal of ’n reël redelik is al dan nie, is objektief. Die rede waarom ’n algehele verbod op die aanhou van troeteldiere onredelik sal wees,  is onder meer:

  1. ’n Algehele vebod op die aanhou van troeteldiere verhinder die deeltitel-eienaar om sy eiendom ten volle te geniet, wat die reg insluit om ’n troeteldier te besit. Die deeltitel-eienaar bekom eiendomsreg ten opsigte van sy eenheid, wat die reg van gebruik en genot waarborg.  Die aanhou van ’n troeteldier is een van die regte wat gepaard gaan met die gebruik en genot van ’n persoon se eiendom. Die beperking van hierdie reg kan slegs geskied waar die troeteldier ’n oorlas of gevaar sou skep vir ander eienaars. Daar is normaalweg gedragsreëls wat die aspekte van oorlas en gevaar vir ander eienaars aanspreek. Die remedies vir die oortredings van die reëls is minder beperkend as ’n algehele verbod op die aanhou van troeteldiere.   
  2. Die algehele verbod op die aanhou van troeteldiere maak nie voorsiening vir ’n meganisme waarbinne die beheerliggaam die individuele omstandighede van ’n eienaar en/of okkupeerder kan oorweeg nie. Indien daar geen nadeel vir die ander deeltitelskema-eienaars sal wees nie, sal die inperking van eiendomsreg deur ’n algehele verbod op troeteldiere, onredelik wees. Watter nadeel kan ’n goudvis in ’n bak water, byvoorbeeld, inhou?     
  3. Die algehele verbod op troeteldiere maak nie voorsiening vir ’n gebalanseerde oorweging van alle eienaars se opinies met betrekking daartoe nie. Gewoonlik word net die opinie van die eienaars oorweeg wat gekant is teen die aanhou van troeteldiere. Gedragsreëls moet in gelyke mate toegepas word op alle eienaars, in ag genome die omstandighede wat geldend is in die spesifieke deeltitelskema.

Die feit dat daar reeds ’n reël is wat die aanhou van troeteldiere verbied, kan nie verhoed dat ’n nuwe eienaar die geldigheid daarvan aanveg nie.

Die Appèlhof in New South Wales het onlangs na analogie van die Suid-Afrikaanse redelikheidsvereiste bevind dat die verbod op die aanhou van troeteldiere ongeldig was omdat dit “harsh, oppressive and unconscionable” was.

Die oplossing is daarin geleë dat beheerliggame reëls aanneem wat redelik is en in gelyke mate van toepassing is op alle eienaars/okkupeerders soos dat troeteldiere nie aangehou mag word sonder skriftelike toestemming en op bepaalde voorwaardes nie. Die oorweging hiervan moet redelik wees. Die onbuigsame toepassing van die reëls sonder om die individuele omstandighede te oorweeg, is in verskeie hofsake verwerp. Die doel van die reëls is om harmonie en samesyn te bewerkstellig en nie om konflik te skep nie.

Related posts

MAKING ADULT FRIENDS

The Growing Bolder Digital Digest

HANDS UP COLLECTION

Ina Meyer

GET BACK TO EXERCISING – SAFELY!

Helen Branthwaite

GEELBEKVLEI BIRDING DRIVE

Christaan Viljoen

DIE REGSPOSISIE VAN ’N PERSOON SE SOSIALE EN DIGITALE VOETSPOOR IN DIE PUBLIEKE SFEER

Zancha Kruger

SLANGE: WEES VERSIGTIG, MAAR NIE VERSKRIK NIE

Lydie Terblanche