Inwoners is al maande lank bekommerd oor die aggressiewe groei van alge in die rivier.
Die Groot Brak Bewarea het tydens die Paasnaweek ’n skoonmaakdag gereël waarby ongeveer 100 gemeenskapslede met ywer ingespring en begin skoonmaak het. Daardie dag is daar besef dat dit ’n grootse taak is wat nie in een dag opgeklaar kan word nie.
Pierre en Johanna de Wet, plaaslike inwoners van Groot-Brakrivier, het met die finansiële hulp van hul kinders, Corné en Carlien Klem van Waterkantstraat 3, Eiland, daad by woord gevoeg om werklose gemeenskapslede by die skoonmaakproses voor hul aangrensende persele te betrek. Daarna het hulle inwoners in die onmiddellike omgewing van die eiland genader om finansieel by te dra ten einde die skoonmaakproses uit te brei. Die samewerking van inwoners was ’n riem onder die hart en in ’n kort tydjie kon werk reeds vir agt dae aan ses persone verskaf word en is ’n groot verskil reeds sigbaar.
Alhoewel ons almal besef dat daar ander dieper onderliggende probleme is wat die gesondheid van die rivier beïnvloed, kan daar tog op ’n visuele vlak ’n verskil gemaak word. Namate alge weer afdryf na die reeds skoongemaakte areas sal daar weer gepoog word om dit sover moontlik te verwyder. Van die alge is reeds verwyder en ander is eers op die oewers uitgesprei om droog te word vir latere verwydering.
Ons opregte dank aan Pierre en Johanna de Wet wat aan die werkers leiding gee, middagetes verskaf, wam storte voorsien en die lone betaal. Ons opregte dank gaan ook aan die werkers wat onder morsige en koue omstandighede bereid is om weer die omgewing te verfraai.
Indien u belangstel om betrokke te raak, kan donasies gestuur word aan:
GBR REHAB
Capitec
Spaarrekening
1582159511
Vir verdere navrae kontak Pierre by 082 373 6048.