16 C
Mossel Bay
3rd Oct 2023
Community & LivingGardeningNature & Nurture

APRIL, DIE “TUSSEN”-SEISOEN IN DIE TUIN

Hierdie maand is ons uitgelewer aan die grille van die weer. Party dae sal heerlike herfsdae met milde son wees, maar ander koud en winderig. Hier in die Wes-Kaap is dit in April klam en bewolk. April sorg egter vir ’n kleurweelde soos min – herfsblare van bladwisselende bome en struike wat oortrek is met bessies het ’n ander tipe bekoring. Rykrooi, robyn, skarlaken, maroen, wynrooi, oker, oranje, heldergoud en sagte geel, is van die kleureprag wat ons te wagte kan wees. Tuiniers kan hierdie kleure probeer herhaal in die meerjarige struike, plante en bolle wat hulle plant. Heldergeel krisante naby ’n sandolien (Dodonea viscosa purpurea) met sy diep pruimkleur kan ’n pragtige prentjie vorm.  

Beddings behoort nou ook leeggemaak te word om plek te maak vir beddingplante en bolle wat in die winter en lente blom. Onthou net om grond met genoeg kompos en voeding te verryk. Die koeler weer is ook die tyd om struike in houers uit te plant, aangesien die grond nog nie te koud is nie en plante sterk ondergrondse wortelstelsels voor die winter kan vestig. Struike en plante wat verplant moet word, se loof behoort drasties teruggesnoei te word. Te veel loof veroorsaak onnodige vogverlies. Konsentreer eerder om soveel as moontlik haar- en bywortels tydens die oorplantingsproses te behou.

Bolle

Die meeste bolle kan nou in goed voorbereide grond geplant word. Plant bolle op ’n diepte van twee tot drie keer die deursnee van die bol. Dit geld selfs vir die petite Tritonia- en Sparaxis-bolletjies.

Voorsien ’n kombers

Benut die blare van bladwissellende bome en gooi dit terug in beddings. ’n Lekker dik laag blaremolm hou vog in die grond en is voeding vir erdwurms en ander organismes wat vir die tuinier die “spitwerk” sal doen.

Kleur in April

Rankplante soos die Japanese klimop (Parthenocissus tricuspidata) of veral die Virginiese klimop (Parthenocissus quinquifolia) teen mure of op traliewerke sorg vir asemrowende ryk kleure. Die Kanarieklimop (Senecio tamoides) met sy trosse geel blomme skep warmte. Hierdie ranker kan soms oorneem en behoort gereeld teruggesnoei te word.

Related posts

PERSONAL FINANCE: YOUR PRACTICAL 2021 FINANCIAL YEAR PLANNER

Neesa Moodley

ON THE ROAD AGAIN

Mariëlle Renssen

UNDERSTANDING IMPACT

Scott Thomson

KGALAGADI, THE BALM OF NATURE

Mariëlle Renssen

SHOULD YOU RENT OR BUY A HOUSE WHEN YOU RETIRE?

Staff writer

More play, more life

Aa'isha Alexander