Die wêreld soos ons dit ken, het in baie opsigte verander. Daarmee saam is die belastingseisoen ook anders hierdie jaar. Die Suid-Afrikaanse Inkomstediens (SAID) het nuwe datums en riglyne uitgereik vir die hantering van jou belastingsake dié jaar.
Gewoonlik open die belastingseisoen vanaf 1 Julie vir aanlyn-belastingopgawes. As gevolg van die gewysigde SAID-datums vir 2020, sal die 2020-seisoen vir individuele belastingopgawes eers vanaf 1 September vanjaar oopmaak.
Gedurende Augustus assesseer die SAID outomaties ’n aantal belastingbetalers. Die SAID sal assesserings doen op grond van data wat hulle ontvang van werkgewers, finansiële instellings, mediese skemas, administrateurs vir uittree-annuïteitsfondse en ander dataverskaffers van derdepartye. As jy ’n outo-aanslag ontvang en die uitslag van daardie aanslag aanvaar, hoef jy glad nie ’n belastingopgawe vir 2020 in te dien nie.
Die outo-aanslag is hoofsaaklik bedoel vir belastingbetalers wat werknemers is en slegs ’n IRP5 ontvang. As jy egter net een IRP5 het, maar ’n motortoelaag ontvang of ander aftrekkings wil eis wat nie op die IRP5 weerspieël word nie, soos uittree-annuïteite, mediese fonds, ens., is dit beter om jou belastingopgawe op die normale manier in te dien.
As jy meer as een IRP5 ontvang of ’n ander inkomste het, soos belasbare rente, kapitaalwins, huurinkomste, ens., word dit aanbeveel dat jy ’n normale belastingopgawe vir 2020 doen, selfs al doen die SAID om die een of ander rede ’n outomatiese aanslag namens jou.
Indien jy ’n outo-aanslag aanvaar en die SAID kom later agter dat jy ander inkomste gekry het, maar dit nie aangedui het nie, kan jy moontlik aanspreeklik wees vir boetes en rentes. Jy moet dus slegs die outo-aanslag aanvaar as jy ten volle oortuig is dat die outo-aanslag jou belastingaangeleenthede vir die belastingjaar 2019/2020 behoorlik en korrek weerspieël. Die 2019/2020-belastingjaar strek vanaf 1 Maart 2019 tot 29 Februarie 2020.
As jy nog nie jou IRP5/IT3(a) en ander belastingsertifikate soos dié van jou mediesefonds, uittree-annuïteitsfonds en ander derdeparty-data ontvang het wat relevant is vir die berekening van jou belasting nie, moet jy so spoedig moontlik jou werkgewer, mediese skema, uittree-annuïteitsfonds of ander derdepartyverskaffers nader om seker te maak dat hulle aan hul voorleggingsvereistes voldoen het. Hierdie inligting moes teen 31 Mei 2020 aan alle belastingbetalers verskaf word.
DIE INDIENINGSTYD VIR BELASTINGOPGAWES IS:
1 September tot 16 November 2020 – Belastingpligtiges wat opgawes elektronies indien.
1 September tot 22 Oktober 2020 – Belastingpligtiges wat nie hul opgawes elektronies kan indien nie, kan dit per afspraak by ’n SAID-kantoor indien.
1 September tot 29 Januarie 2021 – Voorlopige Belastingpligtiges wat opgawes elektronies indien.
Indien jy onseker is of hulp benodig met jou belastingopgawe, kan dit voordelig wees om ’n geregistreerde belastingpraktisyn te nader. Onthou, dit bly steeds jou verantwoordelikheid om jou belasting-aangeleenthede op datum en korrek te hou.