Medelye vir jou medemens, deernis en begrip is eienskappe wat broodnodig is in die tye waarin ons leef. COVID-19 het mense geïsoleer, families vervreem en ons ingeperk tot eiebelang. Reeds van die begin van die Skepping af is dit duidelik dat die mens nie alleen moet wees nie. Dit is nodig vir ons geestesgesondheid om in kontak met ander mense te wees. Om verstaan te word deur ander en ondersteuning te kry en te gee. Die groot vraag is egter: Hoe doen ons dit?
Ons bemeester nie deernis en medelye op skool nie. Ons leer dalk kopkennis oor medemenslikheid, maar dit is eers wanneer ons dit begin lééf dat ons werklik verstaan waaroor deernis gaan. Eers wanneer ons ervaring opdoen deur werklik belang te stel in ander kan die plantjie van omgee en broederlike liefde in ons binneste begin groei. Wanneer ons stop by iemand wat eensaam is, ’n deur vir iemand oophou, vriendelik groet of ’n karwag ’n ruim fooitjie gee. Dít is wanneer ons medemenslikheid bemeester – deur ’n medemens te wees vir iemand.
Die woord ubuntu beteken dat ons eers werklik mens is wanneer ons saam met ander mense is. Wanneer ons mekaar erken en die mooi in mekaar raaksien. Ons floreer in die teenwoordigheid van mense wat omgee. Om te weet iemand sien jou raak, iemand is daar vir jou. Dit is wanneer ons in die heilige spasie intree waar iemand ons in hulle vertroue neem – eers dan leer ons van deernis en begrip.
Kom ons weier om in ’n wêreld te leef waar liefde onsigbaar is. Kom ons oordeel minder en toon eerder goedhartigheid, vriendelikheid, begrip en medemenslikheid. Wees goed vir ’n vreemdeling, wees sag met jou vriende wat deur moeilike tye gaan en wees lief vir jouself. As jy nie goedheid in hierdie wêreld kan vind nie – wees goed!
Everyone you meet is fighting a battle you know nothing about. Be kind. Always. Robin Williams