23 C
Mossel Bay
1st December 2023
Community & LivingFinancesNews

BEPLAN JY OM LATER AF TE TREE?

Die meeste Suid-Afrikaners kan nie ’n gerieflike aftrede op die gemiddelde aftree-ouderdom van 60 bekostig nie. Noudat baie nog herstel van die verwoestende uitwerking van die pandemie, is die potensiële uitdagings nog groter om prioriteit te gee aan aftrede as ’n spaardoelwit, sê André Wentzel, Hoof van Kliënte-oplossings (Spaar) by Sanlam.

Boonop beteken die skerp styging in lewensverwagting dat baie mense baie langer as hul geraamde aftree-ouderdom sal leef, en so word groter druk op hul aftreespaargeld geplaas om die kostes van hul goue jare te dek.

Wat ’n uitgestelde aftrede vir jou geld beteken

Deur jou aftrede met selfs net een, drie of vyf jaar uit te stel, kan jou spaarsituasie fundamenteel verander, en jou in staat stel om ’n beter lewensgehalte te bekostig wanneer jy ophou werk.

“As jy 20% van jou inkomste begin spaar het toe jy 25 jaar oud was en op koers is om op 60 af te tree en jou leefstyl wil behou, kan jou inkomste met 7% tot 8% beïnvloed word indien jy ’n jaar vroeër of later aftree,” sê Wentzel. “As jy jou aftrede met drie jaar vervroeg, kan jy verwag om met 20% minder inkomste af te tree, maar uitstel met drie jaar kan jou byna 24% meer inkomste in die sak bring.”

As jy op 55 aftree, sal jy 30% minder spaargeld hê, maar 42% meer spaargeld as jy op 65 aftree. “Aftrede op 65 in plaas van 55 (die jongste ouderdom waarop jy toegang tot jou spaargeld kan kry), beteken dus dat jou inkomste meer as verdubbel,” sê Wentzel.

Later aftrede kan ook help om jou omstandighede te verbeter indien jy agtergeraak het omdat jy later begin spaar het, of jou bydraes tydelik moes staak, of voortydig van jou spaargeld moes gebruik weens omstandighede soos ons tans met die pandemie ondervind. Die praktiese reël is dat jy, vir elke jaar wat jy jou spaarbydraes tydelik moes staak of gewag het om te begin spaar, dit kan inhaal deur een jaar later af te tree. Byvoorbeeld: ’n 60-jarige afgetredene wat van ouderdom 25 af sonder onderbreking gespaar het, kan verwag om dieselfde spaargeld te hê as ’n 70-jarige afgetredene wat op ouderdom 35 begin spaar het, of wat vroeër begin spaar het, maar hul spaargeld opgebruik het teen ouderdom 35.

Die voordele van semi-aftrede

Jy het miskien nie die opsie om jou werk voltyds voort te sit nadat jy aftree-ouderdom bereik het nie. Jy kan semi-aftrede oorweeg, wat beteken dat jy na jou amptelike aftrede deeltydse werk doen om jou inkomste aan te vul. “Selfs al verdien jy ’n betreklik klein salaris met deeltydse werk, kan dit ’n beduidende verskil maak oor die langtermyn en help om jou aftreespaargeld te rek,” sê Wentzel.

Oorweeg dié opsies as jy jou inkomste tydens aftrede wil aanvul:

  • Konsultasie: Navorsing wys dat ouer, meer ervare werknemers produktiwiteit en werkgeleenthede vir ’n maatskappy kan verhoog. Om jou jare se ondervinding en kundigheid in ’n raadgewende of ondersteunende rol aan te bied, kan bevredigend wees en jy kan terselfdertyd ’n spaarfonds opbou wat jou inkomste aanvul.
  • Plaaslike dienste: As jy afgetree is, kan jy diegene in jou omgewing help. Stokperdjies kan jou help om ’n ekstra inkomste te verdien, soos om met die bure se honde te gaan stap, take vir mense te doen of huise op te pas.

As jy oorweeg om jou aftrede uit te stel of jou inkomste na aftrede aan te vul, is dit belangrik om ’n plan in plek te hê. Gesels met ’n gekwalifiseerde finansiële adviseur vir leiding oor die beste plan vir jou.

https://www.sanlam.co.za/blog/artikels/Pages/oorweeg-jy-om-later-af-te-tree

Related posts

’N KYKIE NA KLEUR DEUR ’N CHINESE LENS

Lydie Terblanche

WHY DO YOU STICK OUT YOUR TONGUE WHILE CONCENTRATING?

Rachel Funnel

WHALE WATCHING!

Janine Pereira

BUYING PROPERTY AS COHABITING PARTNERS

Herman Swanepoel

DIE VROUE ORGANISASIE IN VANDAG SE DAE

Lydie Terblanche

Great Brak Conservancy: Rooting out Aliens

Scott Thomson