16 C
Mossel Bay
3rd Oct 2023
Community & LivingNews

BESIT: ONTNEEM EN ONTSTELD?

Indien jy in vreedsame en ongestoorde besit van iets is, en dit word van jou ontneem, is jou wapen die eeueoue interdik, genaamd die mandament van spolie. Die hof sal meestal ingevolge die mandament jou onmiddellik eers terugplaas in besit voordat getuienis aangehoor word wat die hof anders mag laat besluit.

Die ontstaan van die mandament van spolie is gevestig op die beginsel dat “jy nie die reg in jou eie hande mag neem” en bloot iemand se besit mag afneem nie. Die hof moet eers genader word vir die gepaste bevel om jou te magtig om deur die balju, indien nodig, besit te verkry.

Die kwessie van besit sluit nie slegs huurpersele en voertuie in nie, maar allerlei vorme van besit. ’n Boer se reg op water uit ’n pyplyn wat oor sy buurman se grond loop, elektrisiteitstoevoer, toegangsregte en vele ander vorme van besit word beskerm.

In ’n paar onlangse gevalle in ons eie omgewing is kommersiële huurders weens agterstallige huur bloot fisies uitgesit deur verhuurders, sonder om eers ’n hofbevel te verkry. Die huurders kon onmiddellike teruggawe van hul persele en besitsherstel eis. Dit verplig die verhuurders dan om met gepaardgaande tyd en koste die hof op die korrekte wyse te nader vir ’n bevel tot uitsetting. In een van die gevalle is selfs die teruggawe van ’n papegaai wat afgeneem is, beveel.

Die mandament is so verreikend dat dit bykans enige vorm van besit in die hande van die besitter beskerm totdat die hof finaal uitspraak gee oor die wettigheid van besit.

Residensiële huurders word tans teen uitsetting beskerm deur die Wet op Sekerheid van Verblyfreg (plaasgrond), en die Wet ter Voorkoming van Onregmatige Uitsettings (munisipale areas). Die mandament van spolie beskerm ongeag bogemelde wette ook residensiële en verder ook kommersiële besit.

Indien die eienaarskap van ’n motorvoertuig byvoorbeeld betwis word, kan die hof in terme van die mandament van spolie tussentydse teruggawe van ’n voertuig beveel indien die motor by die besitter afgeneem word, sonder om eers te beslis wie die eienaar is.

Die vereistes van die mandament word kragtig opgesom in die beslissing van Yeko v Qana 1973(4) SA735 (A), waar die Appelhof vereis dat die hof slegs tevrede moet wees dat:

  • die applikant in besit of quasi-besit van ’n eiendom was en,
  • die respondent hom met mag of verkeerdelik die besit ontneem het sonder sy toestemming.

In Fredericks and Another v Stellenbosch Divisional Council, het die Hof sover gegaan om die respondent wat plakkershuise sonder ’n hofbevel verwoes het te beveel om nie slegs hul besit te herstel nie, maar om hul huise te herbou met soortgelyke materiale. Die les te leer uit die mandament van spolie is duidelik – moenie die reg in jou eie hande neem nie. Dit kan jou duur te staan kom.

Related posts

HOW TO BOOST YOUR ENERGY WHEN THE SLUMP HITS

Ishani Chetty

GREAT BRAK RIVER ART ROUTE IS EXPANDING!

Annlerie van Rooyen

HOPE IN DIFFICULT TIMES

Annlerie van Rooyen

YOUR GARDEN IN FEBRUARY

Annlerie van Rooyen

THE ART OF WRITING

Lydie Terblanche

BRIDGES … A MEANS OF CONNECTING

Mariëlle Renssen