Retoer, Pretoria – Provence
Skrywer Marita van der Vyver
Sy het ons oorrompel met Griet skryf ’n sprokie. Hoe kon so ’n jong vrou soveel patos in ’n boek vol Griekse mitologie en Grimm-sprokies pas? Hoe kan enige een so openlik ’n goue voël beskryf sonder om platvloers te wees? Deur die jare het die karakters in Marita van der Vyver se boeke ook myle bygekry.
Volg jy haar op die sosiale media, waar sy baie bedrywig en altyd vrygewig is met haar tyd, dan weet jy hoe lyk haar kinders, haar man en die wêreld van haar hart.
Weet ons egter wat ín haar hart aangaan? Hierdie bundel essays en rubrieke skuif dáárdie deur so effens oop.
Marita sê self: “Ek het altyd gesê, nie heeltemal spottend nie, dat ek vreeslik oud sal moet word voordat ek eendag my memoires aandurf. Daar is net te veel mense wat eers moet doodgaan, van nare onderwysers tot formidabele familielede, voordat ek werklik eerlik oor hulle kan skryf. En nou is ek eensklaps ‘
vreeslik oud’ – of dis altans hoe die sestienjarige meisiekind wat ek lank gelede was, my huidige beleë toestand sou beskryf het. Daarvan is ek doodseker. Ek het onlangs weer daardie tiener se dagboek in dromerige trant gelees, en besef sy sou haar kop in stomme ongeloof geskud het as sy my nou moes sien.”
Marita waarsku egter ook: “Ek beskou dit beslis nie as ’n amptelike outobiografie nie – daarvoor voel ek steeds te jonk!”
Retoer, Pretoria – Provence; Die ongelooflike avonture van ’n skrywende ma, ’n opregte manier om aan ’n waarderende gehoor die retoerritte van Marita van der Vyver se hart en lewe te openbaar.