Drie hoera’s vir Denver vertel die aangrypende verhaal van ’n seuntjie genaamd Denver wat baie mooi kan sing, maar begin hakkel nadat sy ma se kêrel, oom Jaap, by hulle kom bly. Die storie wys op ’n deernisvolle manier hoe dinge uiteindelik beter word nadat Denver die moed bymekaarskraap om sy ma en sy sangjuffrou te vertel dat dinge nie reg is by die huis nie. Drie hoera’s vir Denver het in 2009 die eerste keer by LAPA Uitgewers verskyn, met illustrasies deur Alida Bothma. Dit is ook in Engels, Xhosa en Zoeloe vertaal. Benewens ’n storie, bevat die boek ook belangrike wenke wat ouers en versorgers kan volg om kinders te bemagtig sodat hulle nie sal stilbly oor mishandeling nie.
Die bekroonde skrywer Wendy Maartens het onlangs aangekondig dat haar prenteboek Drie hoera’s vir Denver gratis in elektroniese formaat beskikbaar gestel word as deel van die veldtog 16 dae van aktivisme teen geweld teen vroue en kinders. Dié belangrike internasionale veldtog word elke jaar van 25 November tot 10 Desember gehou om bewusmaking te kweek vir die lot van vroue en kinders wat slagoffers van geweld is.
Die boek kan gratis in PDF-formaat in al vier tale afgelaai word by www.lapa.co.za en www.wendymaartens.co.za

next post