Bosbou en Koolstofkrediete (“carbon credits”)

Bome is nie net ‘n bron vir papier en hout nie, maar is ook ‘n belangrike strategiese wapen teen klimaatsverandering. Koolstofdioksied is een van die kweekhuisgasse wat bydra tot aardverwarming.

Bome absorbeer daagliks koolstofdioksied uit die atmosfeer deur fotosintese, en stoor dan die koolstof as ‘n voedingsbron vir die boom in sy stam, takke en wortels. Elke ton koolstof wat in ‘n boom gestoor word, is ,n ton koolstof wat nie bydra tot klimaatsverandering nie.

Hoekom is dit belangrik? In die bosboubedryf is daar ‘n nuwe belangrike term waaroor baie gepraat word: koolstofkrediete.

Maar wat is dit presies? ‘n Koolstofkrediet verteenwoordig óf die permanente verwydering van ‘n ton koolstofdioksied uit die atmosfeer, óf die vermyding van een ton koolstofdioksied wat in die eerste plek vrygestel word, op watter manier ook al. Dit is soos ‘n beloning vir ons bome se goeie werk om koolstof uit die lug te neem en te help om die aarde gesonder te maak.

Hier is die wonderlike deel: wanneer bome genoeg koolstof uit die atmosfeer haal, kan die bosboubedryf dit verkoop as koolstofkrediete. Ander besighede kan hierdie koolstofkrediete koop om hul eie koolstofvoetspoor te verminder. ‘n Besigheid se koolstofvoetspoor is die totale hoeveelheid kweekhuisgasse wat deur hulle optrede gegenereer word. Deur koolstofkrediete te koop, ondersteun hierdie maatskappye die bosboubedryf wat meer bome kan plant en dus kan meer koolstofdioksied uit die atmosfeer geneem word. Dit is ‘n wen-wen situasie vir almal!

Dis belangrik om te onthou dat die meeste bosbou maatskappye volhoubaar is. Bome word geplant soos dit afgekap word, met baie hulpbronne wat gebruik word om dit te bestuur. Die bosboubedryf is dus nie net ‘n bron van werkgeleenthede en ekonomiese groei nie, maar is ook ‘n hoeksteen in die bou van ‘n volhoubare toekoms vir ons planeet.