Min mense is bewus van ’n unieke klein gemeenskap aan die oewer van die Gouritzrivier. Dit is Buisplaas, wat so 22 km vanaf Herbertsdale en 55 km vanaf Mosselbaai geleë is. Hoekom uniek? Hierdie gemeenskap besit al vir 156 jaar die grond waarop hulle bly. Hul Franse voorvader, Frederick du Buis, het aan hulle die grond bemaak en daar bly net Buisafstammelinge, want niemand anders mag daar kom woon nie. Frederick du Buis mag dalk nie bekend wees nie, maar sy berugte broer, Coenraad du Buis of soos sy van verhollands is, De Buys, was die onderwerp van vele boeke. Al in 1950 het Sarah Gertrude Millin die boek, King of the Bastards, oor hom geskryf en meer onlangs was hy ook die onderwerp van die bekroonde boek, Buys, deur Willem Anker.
Frederick het ’n minder opwindende lewe as boer langs die Gouritzrivier gehad, maar het die huidige Buisplaas aan sy twee seuns, Simson en Saul, bemaak. Simson, beter bekend as Sim, het alleeneienaar geword en staan as die voorvader van die mense van Buisplaas bekend.

Die Buisplasers was lank van aalwyntap en die genade van die Gouritz afhanklik om te oorleef. Visvang, palings vang, maar veral die tap van aalwyne en die aanplant van groente en vrugte vir eie gebruik, het gehelp totdat daar in 1986 deur die toedoen van Attie Joseph ’n Buisplaas-Bewonersvereniging gestig is. Met die hulp van verskeie organisasies en die distriksmunisipaliteit is water na die huise aangelê en verskeie verbeterings op die dorpie aangebring.
Baie jongmense moes noodgedwonge die dorpie verlaat om verder te studeer en te gaan werk, maar dikwels kom die ouer mense terug om in absolute vrede hul laaste jare in Buisplaas deur te bring. Johann Buis is tans ’n professor in musiek in Chicago, VSA, maar hy het steeds ’n lewendige belangstelling in die lot van die Buisplasers. Daar is ’n Lutherse kerk (reeds vir 115 jaar) en ’n Anglikaanse kerk (75 jaar) waarom die lewe van die inwoners wentel.
Al nadeel van die feit dat hul eienaars van die grond is, is dat die munisipaliteit nie vir die jongmense ontspanningsgeriewe kan oprig nie. Droogte en die gebrek aan befondsing kniehalter die pogings van die jongmense om hul lewenskwaliteit daar te verbeter.