As deel van CAWS 4 PAWS se ‘Be my Valentine!-projek, was Yolandi Abrahams se vriendelike hondjie Tandjies, bekend vir haar glimlag, een van die gelukkige ontvangers van twee groot sakke baie welkome kos. Meisie en Goddeloos is Yolandi se ander twee ‘kinders’. Hierdie outjies is almal gesteriliseer en het reeds hokke, met komberse van CAWS 4 PAWS ontvang.
Milo is ʼn paar maande gelede vasgemaak aan ʼn wasgoedpaal gekry. CAWS 4 PAWS het ernstig met die eienaar gesels oor versorging van honde, vir Milo gesteriliseer en kos gevat. Die laaste twee besoeke was hy nie meer vasgemaak nie en is hy mooi vet en gesond. CAWS 4 PAWS vrywilliger Stephanie, sê Milo met sy een blou oog “is die mooiste, mooiste hond” en sy het ʼn baie sagte plekkie vir hom! Milo is vandag ʼn lieflike hond met ʼn wonderlike geaardheid. Hy (en die ander diere), word gereeld besoek om seker te maak dat alles nog reg is en dit gaan goed met almal!
Steffie, ʼn goed gemanierde en vriendelike meisie, was baie bly en verras met haar Valentynsdag geskenk. Steffie het reeds baie onwelkome swangerskappe gehad en het onder haar eienaar se huis geslaap. CAWS 4 PAWS het haar gesteriliseer en versorg totdat sy sterker was. Vandag het Steffie ook haar eie hok en hoef sy nie meer onder die huis te slaap nie.
Cindy was in haar noppies met haar lekker sak kos (Cindy se erf het dringend omheining nodig).
Twopak se pa, Joppie Smit, was saam met hom bly oor sy sak hondekos. Twopak is verlede jaar gesteriliseer en het ook sy hok gekry (die outjie het voorheen vir homself ʼn gat in die grond gegrawe om in te slaap).
Onthou die volgende: tewe hoef nie eers op hitte te kom of kleintjies te hê nie voor sterilisasie nie. Reuns wat nie gesteriliseerd is nie, raak gefrustreerd en toon gedragsprobleme as hulle nie by die tefie op hitte kan uitkom nie, dit word reggestel deur sterilisasie. Gesteriliseerde honde se persoonlikheid verander nie, hulle word ook nie vet of lui nie. Om die waarheid te sê, word hulle beter troeteldiere en beter waghonde omdat hulle die gesin liefhet en wil beskerm.
Mense vra gereeld hoekom verwaarloosde diere nie weggeneem word nie? Dit is ongelukkig nie die antwoord nie, want dan sal ʼn oningeligte eienaar net weer een kry en dit bly ʼn wrede sirkel. Die antwoord lê in noodsaaklike opleiding en opvoeding en bystand met raad en daad. Dit is waar CAWS 4 PAWS se span vrywilligers die verskil maak.
CAWS 4 PAWS bedank graag almal vir hulle borgskappe van hierdie projek (een van vele). Sonder donasies kan behoeftige diere nie gehelp word nie. Geen bydrae is te min of te klein nie. As jy wil help met hierdie besonderse liefdestaak, kontak hulle gerus
http://www.facebook.com/Caws4Paws / 063 849 3448 / greyfield@mweb.co.za