21.9 C
Mossel Bay
28th November 2023
Community & LivingGeneral knowledge

DANKIE DAT DIE RATTE BLY DRAAI!

Wanneer ’n jaar naby sy einde kom, wel daar onwillekeurig ’n gevoel van dankbaarheid in my op. Ek hoef dit nie te gaan soek nie, dit kom net kort-kort in my binneste na vore. Die dankbaarheid is hoofsaaklik van persoonlike aard – gesondheid, geliefdes, gespaar, gelukkig. Dis ’n voorreg om te kan terugkyk oor die jaar wat besig is om uit te loop, en dankbaar te wees vir al die guns en genade.

In die gees van die feestyd waarin ons nou verkeer, kies ek egter doelbewus om verder as myself en my eie lewe te kyk. Ek kies om na die wêreld rondom my te kyk en my dankbaarheid uit te kring vir mense en dinge wat deel uitmaak van my alledaagse bestaan en “unsung heroes” is, omdat hulle die ratte van ons samelewing aan die draai hou. Mense en dinge wat ons vanselfsprekend aanvaar en meestal nie twee keer aan dink nie. Dit is meestal eers wanneer ’n diens nie beskikbaar is nie of swak is, wat ons aandag getrek word na ’n klein ratjie in ’n groot masjien se meganisme.

Dink maar ’n oomblik aan petroljoggies wat gereed staan om te dien twee-uur die oggend wanneer ons op pad is met vakansie; mense wat in geriefwinkels werk of badkamers skoonmaak by vulstasies, dwarsdeur die nag; noodpersoneel wat familietyd prysgee om beskikbaar te wees vir ongevalle; verkeerspersoneel en polisie wat om die klok werk om toe te sien dat almal, al is hul met vakansie, by die reëls bly. Ek is dankbaar vir instansies soos die NSRI (Nasionale Seereddingsinstituut) wat oortyd werk in die feestyd om kosbare lewens te red – en dít as vrywilligers! Ek dink met dankbaarheid aan die personeel by kruidenierswinkels wat van vroeg tot laat werk, soms tot op Kersdag, vir my gerief. Ek dink met diepe dankbaarheid aan munisipale personeel wat op die onmoontlikste tye, elektrisiteit- of waterprobleme herstel sodat ons lewens so min moontlik ontwrig word. Ek is innig dankbaar vir die mense wat die strate en strande skoonhou sodat ons dorp ’n top-vakansiebestemming, asook ’n gesogte blyplek bly. Mense wat 24/7 beskikbaar is om diere in nood te help, is spesiale soort helde.

Ek besing vandag elke persoon wat ander dien, vir hulle beskikbaarheid, diensbaarheid, vriendelikheid en bereidwilligheid. Dankie vir die laat nagte, vroëe oggende, lang ure, vriendelikheid in moeilike omstandighede en tyd weg van geliefdes. Mag julle so mildelik ontvang soos julle gee.

Related posts

SLEGS SKAKERINGS VAN GRYS?

Madelein Campher

BUYING A SECOND-HAND CAR

Des Sinclair

A DOLPHIN IS A DOLPHIN RIGHT…?

S.M. A.R.T

EEN TREE VORENTOE, TWEE TREË AGTERUIT

Madelein Campher

Holiday Photo Hints

Brahm Meyer

MAAK DINGE VIR JOU WERK

Laurinda Smit