16 C
Mossel Bay
26th Sep 2023
Community & LivingGardeningGeneral knowledgeNature & Nurture

DIE BALLERINAS ONDER DIE BLOMME

Met hul pragtige “tutu’s”, party in dubbellae, ander enkel met outydse name soos ‘Caroline’, ‘Blue Waves’, ‘Checker Board’, ‘Emile de Wildeman’, ‘La Campanella’ en ‘Lady Beth’, bekoor fuchsias ons blommewêreld oor baie dekades.

Fuchsias groei van nature hoofsaaklik in die warmte, humiditeit en spikkelsonlig van die hoërliggende tropiese en subtropiese woude van Suid- en Sentraal-Amerika, terwyl ’n paar ook hul oorsprong in Nieu-Seeland het. Hoewel die plant die eerste keer in Suid-Amerika deur Vader Plumier, ’n sendeling en ywerige botanis ontdek is, het die Duitse botanis, De Charles Fuchs, die plant na homself vernoem. Die plante is in baie lande verbaster om die pragtige blomme van vandag te word.

Waar groei hulle die beste?

Fuchsias hou nie van die skaduwee nie. Hulle verkies oggendson en skadu in die namiddag, of gefiltreerde sonlig regdeur die dag. Let daarop: hulle is nie huisplante nie. Mooi blommende plante kan vir ’n spesiale geleentheid binnenshuis uitgestal word, maar nie langer as drie dae nie.

Grondmengsel

Fuchsias verkies grond wat los en goed deurlug is. Aanvullings met kompos, ou mis, superfosfaat en beenmeel behoort vooraf goed gemeng te word. Houers moet ’n dreineringslaag van geskikte material hê. Fuchsias groei nie goed in kleigrond nie. Plantgate in die oop grond behoort ten minste 60 cm diep en 60 cm in deursnee te wees.

Water en Voeding

Die grond waarin Fuchsias groei, moet altyd klam, maar nie deurdrenk wees nie. Hulle het baie water nodig en dié in houers moet soms elke dag na gelang van die houer, natgemaak word. ’n Deklaag of grondbedekkers sal veral plante in die oop grond tydens warm, droë weer in die somer help beskerm. In hierdie areas behoort hulle ten minste drie keer per week goed natgemaak te word.

Vestig nuwe plante met genoeg fosfaat in die grondmengsel. Aan die begin van plante se groeifase het hulle stikstof nodig om goed gevestigde struike te vorm. Kalium is noodsaaklik om plante wat sterk groei se blomknopvorming te stimuleer.

Snoei

Fuchsias blom slegs heel aan die punte van takke. Tydens die groeiseisoen kan hierdie takke langer en langer word, en in feitlik kaal stingels met slegs blare, en ’n paar blomme aan die punte ontwikkel. Die enigste manier om dit reg te stel, is om oordeelkundig te snoei. So kan die fuchsia ’n mooi ronde struik vorm en sal die “ballerinas”  oral kan “dans”. Blomseisoene is lank en fuchsias kan die tuinier buitengewone plesier verkaf.

Related posts

A Snail for Lunch?

Colin Ralston

BOEKRESENSIE

See Website Reference

Are you Pennywise of Pound-foolish

Des Sinclair

FOTO FOCUS – A DIFFERENT VIEWPOINT

Brahm Meyer

ALGVERWYDERINGSPROJEK IN GROOT-BRAKRIVIER

Marianne Alberts

ROL VAN BELANGHEBBENDES IN OMGEWINGSIMPAKSTUDIES

Hanlie Hattingh