12 C
Mossel Bay
5th Jun 2023
Community & LivingNews

DIE BETEKENIS VAN ’N LEWENDE TESTAMENT

Die Suid-Afrikaanse Mediese Vereniging definieer ’n Lewende Testament as ’n verklaring wat die pasiënt se wens verteenwoordig om enige verdere mediese behandeling te weier in die geval waar sodanige mediese behandeling die pasiënt op ’n kunsmatige manier aan die lewe hou. ’n Lewende Testament word opgestel om voorsiening te maak vir die situasies waar die pasiënt nie meer compos mentis is nie en nie in staat is om sulke lewensveranderende besluite self te kan neem nie. Daar bestaan egter baie onsekerheid oor die geldigheid en die afdwingbaarheid van sodanige Lewende Testamente in Suid-Afrika.   

’n Lewende Testament is nie ’n Testament in die sin dat dit deur die Wet op Testamente gereguleer word nie. Daar is tans geen wetgewing in Suid-Afrika wat die werking en afdwingbaarheid van Lewende Testamente reguleer nie. Dit beteken egter nie dat ’n individu nie ’n Lewende Testament in plek kan hê nie. Die onsekerheid lê wel waar dit kom by die afdwingbaarheid van Lewende Testamente teenoor die besluit van familielede en/of mediese praktisyns wat die pasiënt behandel.

Alhoewel die Wet op Nasionale Gesondheidsorg alreeds die reg van individue erken om enige mediese behandeling te weier, is die Wetgewing onduidelik oor die toepassing daarvan in die geval waar ’n Lewende Testament in plek is en die pasiënt nie meer in staat is om hul besluit te kommunikeer nie. In 2019 is hierdie onduidelikheid aangespreek deur die Wysigingswet op Nasionale Gesondheidsorg wat aan die Nasionale Vereniging voorgelê is. Die hoofrede vir hierdie Wysigingswet is om die erkenning en afdwingbaarheid van voorskrifte vir gesondheidsorg, onder andere ’n Lewende Testament, binne die Wet op Nasionale Gesondheidsorg te beklemtoon. Hierdie Wysigingswet stel voor dat Mediese Praktisyns effek moet gee aan Lewende Testamente nadat hy/sy hom-/haarself bevredig het dat die pasiënt se toestand terminaal is. Dit bespreek verder ook dat die Mediese Praktisyns wat uiting aan ’n Lewende Testament gee, nie krimineel of siviel verantwoordelik gehou kan word in die geval waar verdere mediese behandeling geweier of onttrek word nie. Totdat hierdie Wysigingswet gepromulgeer word, bly die status van ’n Lewende Testament egter as onafdwingbaar en mag derhalwe deur familielede en/of mediese praktisyns geweier word.

Dit is ’n algemeen motiverende beginsel om nie dood met familie, vriende en/of mediese praktisyns te bespreek nie. Die belang van ’n Lewende Testament moet egter nooit vermy word of onderskat word nie. ’n Lewende Testament voorsien individue van gemoedsrus dat hulle wense gerespekteer sal word, selfs waar hulle nie verder kan kommunikeer nie. Dit beheer ook moontlike konfliksituasies tussen familielede wat met die besluit gekonfronteer word aangaande verdere en toekomstige mediese behandeling wat mediese onkostes laat styg. Alhoewel daar steeds onsekerhied bestaan oor die afdwingbaarheid van ’n Lewende Testament, is die belang daarvan onvermydelik.

Related posts

You and your Aging Parents

Dr Andrè Botha

THE DAILY DANCE OF FLOWERS

Gregory Moore

GOOD PHOTOS OF THE MOON

Carly Earl

POWER OF ATTORNEY VERSUS ADMINISTRATOR AND/OR CURATOR

Erika Oosthuizen

LIGHTS & LANTERNS FESTIVAL

Laurinda Smit

Oktober is Borskankerbewusmakingsmaand

Dr Shani van der Spuy