23 C
Mossel Bay
1st December 2023
Children's well-beingCommunity & LivingGeneral knowledgeHealth & BeautyParentingRelationships

DIE BREË SPEKTRUM VAN VERLIES

Wanneer die seisoene begin verander, word ’n mens dikwels bewus van die veranderinge in jouself.

Die woord wat dikwels na vore kom, is “verlies”.

Tydens verlies beleef ons ’n woestyntyd waarin ons soek na die sin van die lewe. Verlies is nie net die proses rondom die dood nie – dikwels is dit dinge waaraan ons nooit gedink het of bewus van was nie. Die breër spektrum van verlies sluit in ’n vriendskap wat dalk ’n natuurlike dood gesterf het, wat as gevolg van konflik of verskil rondom ’n onderwerp skade gely het, of waarvan selfs die verandering van omgewing die oorsaak is. Dan is daar die verlies van werk wanneer jy aftree, die verandering van jou gesondheid of dié van jou eggenoot of ’n familielid. Leë-nessindroom – die kinders is uit die huis, trek na ’n ander dorp of immigreer na ’n ander land. Verhuising na ’n ander plek of dorp of land bring ook verlies mee. As ’n mens verander van omgewing word jy ook direk gekonfronteer met die verlies van jou geskiedenis – dit wat almal van jou geweet het. Ons word ontvang in die nuwe omgewing en opgeneem in die gemeenskap, maar niemand ken ons geskiedenis of die persoon wie ons was nie.

In hierdie tye van verlies word ons gekonfronteer met die dimensies van die lewe waarvan ons nie kan ontvlug nie. Dit lei dan tot die vraag: Wie is ek, hoe sien ek myself en wat gee my waarde? Ons is nie geleer om met verlies te deel nie – dink maar terug aan toe ’n troeteldier dood is en dikwels sommer dadelik vervang is. ’n Maatjie wat saam met jou in die skool was wat verhuis het of nie meer met jou wou speel nie of dalk dood is.

Ons is grootgemaak met die idee dat daar verliese gaan wees, dat ons dit maar moet aanvaar en dat hartseer ook deel van menswees is. Daar is gewoonlik gesê dat dit deel van die lewe is, dat dit sal verbygaan, dat dit beter sal word en dat jy moet aanbeweeg.

Hoe dink jy oor verliese en hoe werk jy daarmee? Die pad van hartseer is ’n emosie wat ons nie kan beheer nie. Dit is ’n gevoel wat oor ’n mens se pad kom en al kan ons dit tot ’n mate probeer beheer, betrap dit ons dikwels onkant. Dit is ’n geweldige belangrike oomblik. Dit is wanneer ons moet besluit: gaan ek en jy verlies weerstaan? Gaan ek en jy ons van die verlies afsny? Gaan ek en jy dit toelaat deur oor die verlies na te dink en dit te voel? Ons eerste reaksie, gekoppel aan ons kultuur, is dikwels om dit te weerstaan en te laat gaan. Dikwels sny ons ons daarvan af, maar die boodskap van alles sal oukei wees, speel dikwels oor en oor in ons koppe. Wanneer ek dit wegsteek of bêre – wanneer ek nie daarmee werk nie – dam dit op en verteer jou.

Een van die grootste navorsers in die veld van verlies en smart sê dat ons in die verlede gedink het ons gaan deur fases wanneer ons treur. Hy het besef dat dit nie so is nie, dat ons elkeen uniek omgaan met verlies. Ons soek dikwels ’n getuie vir ons smart en pyn. Ons moet dit vertel/iemand moet luister/dit sien en daarvan weet. Dit is egter nie maklik om ons hartseer en pyn te verwoord en te verbaliseer nie. Die trane wat ons stort en deel, help ons om te weet dat ons nie alleen is nie. Die vraag bly egter onbeantwoord. Wat maak ek met verlies? Wat weerhou my om die hartseer van verlies te omarm en te voel?

Die aard van die lewe is dat alles verbygaan, alles gedurig verander. Dit is iets wat jy nie net moet weet nie. Dit is iets wat jy moet aanvaar. Jou hartseer, die pyn, sal verbygaan.

Met wie kan ek my pyn deel? Waar gaan ek heen vir iemand om te luister en my vas te hou? Dit help dikwels om dit neer te skryf in ’n joernaal deur terug te dink en stil te staan by die oomblikke waar jy seer het, en dit wat vir jou uitstaan.

Dit help om na plekke van konneksie te gaan waar daar spasie geskep word waar jy veilig ontvang word. Dit help ook dikwels om ’n berader of ondersteuningsgroep te besoek.

Ons is gemaak vir konneksie – volgens navorsing is konneksie met ons neurobiologie verweef. Dit maak ons gelukkiger, gesonder en beter in staat om die stres van die lewe te hanteer. Konneksie maak dialoog moontlik – dit bring verhoudings tot stand waar ek veilig voel en gehoor en aanvaar word.

Ter afsluiting: Let me keep my distance, always, from those who think they have the answer. Let me keep company always with those who say “Look!” and laugh in astonishment, and bow their heads. Mary Oliver

ARTIKEL VERSKAF DEUR CARITAS CARE, MOSSELBAAI

Related posts

ARE WE FEEDING THE BEAST?

Scott Thomson

Inspirerende Landbouprojek vir Jeug in Groot Brakrivier

Laurinda Smit

Traumadekking

Des Sinclair

ROL VAN BELANGHEBBENDES IN OMGEWINGSIMPAKSTUDIES

Hanlie Hattingh

OUR SHOES WILL LEAD US

Mariëlle Renssen

WHAT IS IN THE NAME?

Scott Thomson