Konflik tussen ouers is normaal, maar die effek daarvan op kinders wissel heelwat. Volgens Prof. Gordon Harold van die Universiteit van Sussex is dit nie net die verhouding tussen die ouer en die kind wat belangrik is nie, maar ook die verhouding tussen die ouers wat ’n groot rol speel in die kind se geestesgesondheid, akademiese prestasie en toekomstige verhoudings. Die meeste konflik sal min negatiewe invloed op kinders hê, veral wanneer konflik opgelos word en ouers op ’n gepaste manier vir die kinders verduidelik waaroor die konflik was. Kinders kan dan juis positiewe lesse leer deur hoe om hul eie emosies en verhoudings buite die gesin te bestuur.
Wanneer ouers egter woedend op mekaar skree of wanneer hul gereeld wegtrek van mekaar en vir mekaar die “silent treatment” gee, kan dit ’n skadelike effek op kinders hê. Navorsing het bewys dat kinders so jonk as ses maande, wat blootgestel is aan dié tipe konflik, ’n verhoogde hartklop het en hul brein streshormone afskei. Die impak op kinders is nie altyd soos wat ’n mens sou verwag nie.
’n Egskeiding is dikwels gesien as langdurig en skadelik vir die kind. Nou word daar besef dat konflik tussen die ouers voor, tydens en na ’n egskeiding meer skadelik is as die egskeiding self, en meer nog as die konflik gaan oor die kinders. Dr. Phil sê ook altyd: “Children would rather be from a broken home than in a broken home.” Die negatiewe effek van gereelde, intense en onoplosbare konflik kan lei tot slaapversteuring en ontwrigting in vroeë breinontwikkeling in babas, angs en gedragsprobleme in laerskoolkinders en depressie, akademiese probleme en ernstiger gevolge soos selfbeskadiging (selfharm) in tieners.
Navorsing bewys ook dat seuns en dogters verskillend reageer – met dogters wat emosionele probleme en seuns wat gedragsprobleme openbaar. Ons weet dat huishoudelike mishandeling en geweld in gesinne besonder skadelik is vir kinders, maar ouers hoef nie eers agressief met mekaar te wees om langtermynskade vir die kind te veroorsaak nie. Wanneer ouers van mekaar onttrek of min warmte en liefde vir mekaar wys, het dit net so ’n groot negatiewe invloed op kinders se emosionele, gedrags- en sosiale ontwikkeling. Slegte verhoudings word ook van generasie tot generasie oorgedra.
Met die inligting wat vandag beskikbaar is, kan ons ouers ’n wesenlike verskil maak oor hoe emosioneel gesond en veerkragtig ons kinders is. Ouers moet besef dat hulle optrede in die huwelik vir hul kinders ’n padkaart gee vir die emosies wat hul kinders as volwassenes gaan hê. Die padkaart bepaal hoe jy jouself sien, hoe jy ander mense sien, hoe jy die wêreld sien en veral hoe jy optree in romantiese verhoudings.