In die hartjie van Albertinia staan ’n reuse- gewone wildevy (Ficus burkei) op die ruim gronde van ’n gastehuis wat omring word deur ’n digte stand van bome, gevoed deur ryk ondergrondse fonteine. Maar dit staan verborge, ver van die besige hoofroete wat langs die dorp verbygaan.
Marietjie Coetzee, eienaar van die Voëlroepersfontein-gastehuis, het die Fluisterboom in 2016 genomineer om as kampioenboom verklaar te word. Die nominasie van bome deur die publiek is die eerste stap in die voorgeskrewe proses van die Kampioenboomprojek van die Departement van Landbou, Bosbou en Visserye. Daarna word genomineerde bome een keer per jaar deur ’n paneel van kundiges geëvalueer, en bome gekortlys vir kampioenboomstatus. Waar nodig word die gekortlyste bome besoek om die mates te bevestig (hoogte, kroonwydte en stamomtrek of deursnee). Die laaste stappe van die proses is om die bome te publiseer vir kommentaar, en dan finaal te verklaar in die Staatskoerant. Die bome is dan onder die Boswet beskerm, en mag nie gekap of beskadig word nie.
As koördineerder van die Kampioenboomprojek het ek in Desember 2016 die boom besoek om die mates te bevestig nog voordat dit aan die paneel voorgelê word, omdat die mates op die nominasievorm nie realisties voorgekom het nie. Wat ek aangetref het, was ’n wildevy van verstommende omvang, en amper onaardse voorkoms weens die talle lugwortels wat grondwaarts groei. Met die metings is die stamomtrek bepaal op sowat 14,6 m (4,67 m in deursnee), en in rangorde word dit netjies in die middel van die top tien dikste bome in Suid-Afrika geplaas.
Vir kampioenboomstatus word die stamgrootte, boomhoogte en kroondeursnee in ag geneem, asook die algehele grootte-indeks waarin al drie kriteria deur ’n formule gekombineer word. Die dikste boom in die land is die Sagole-kremetart van die Limpopo-provinsie, wat met ’n stamomtrek van 33,7 m die tweede dikste boom ter wêreld is. Die hoogste bome in Suid-Afrika is saligna-bloekombome wat in 1906 in Woodbush naby Tzaneen geplant is. Ten spyte van ’n skrale stamomtrek van minder as 5 m, is hulle hoogte met behulp van boomklimmers akkuraat gemeet op 81,5 m, sowat 26 verdiepings!
Daar is min wildevye wat die enorme afmetings aanneem wat die Fluisterboom bereik het. Die boom se ouderdom word op sowat 200 jaar geraam, en dit het hierdie omvang bereik waarskynlik as gevolg van die sterk fonteine op die perseel, en is waarskynlik nooit deur droogtes geraak nie. Die kriteria vir die lysting van kampioenbome sluit benewens grootte ook die visuele impak daarvan in. Hierdie boom is besonder treffend weens die voorkoms daarvan, wat al beskryf is as iets wat ’n mens laat dink aan Tolkien se “Middle Earth”. Die naam Fluisterboom of Whispering Tree verklap iets van ’n mistieke band wat sommige mense met die boom aanvoel. Die boom is so gedoop nadat ’n besoeker gesê het dit is asof die boom met haar praat as daar ’n windjie deur die takke roer.