Einde April 2021 was ek bevoorreg om die pragtige Tsitsikamma-wandelpad vir vyf salige dae te deurkruis. Om hierdie belewenis, die skoonheid, grootsheid en helende krag van die natuur egter in woorde vas te vang, is ’n ander saak.
Die manjifieke inheemse woude waardeur ons gestap het, was maar een van vele elemente waaroor ons daagliks in verwondering gestaan het. Net soos op een van my Franse toere waar boomlanings van kilometers lank my totaal en al bekoor het, het ek teruggekeer met hernude respek en ’n selfs groter liefde vir bome. Van die hemelhoë “oues” tot piepklein saailinge, van die dooies waaruit nuwe bome baldadig groei tot dié wat in die beste kunsgalerye kan pryk met hul kunstige en veelkleurige stamme, van dié met welige wortelstelsels wat feetjiepaleise met die fraaiste mosversierings herberg tot dié waarvan die stamme in sampioene “blom”, het elkeen daagliks ons spirituele ervaring van die natuur verdiep. Dr. Gerrie van Deventer, ons stapleier, het die boomtema versterk deur verse soos Jes. 55:12 “Al die bome in die veld sal hande klap” en Ps. 1:3 “Hy is soos ’n boom wat by waterstrome geplant is, wat op die regte tyd vrugte dra en waarvan die blare nie verdroog nie” vir ons te lees, sowel as gedigte soos:
Bede van ’n strandveldboom, Ann Hiemstra
Geloof moet jy hê in my
dat ek tóg sal groei
die brak en sand en wind ten spyt
Hoop is wat ek van jou vra
dat blaar en bloeisel uit sal spruit
skugter dalk selfs vrug sal dra
Liefde is wat ek nodig het om eindelik te gee
en – as oplaas jy weg moet gaan –
steeds hier in die tuin te staan
Trees, Joyce Kilmer(verkort)
I think that I shall never see
A poem lovely as a tree.
A tree that looks at God all day,
And lifts her leafy arms to pray;
A tree that may in Summer wear
A nest of robins in her hair;
Poems are made by fools like me,
But only God can make a tree.
Dan was daar nog al die verskillende biome en blomme, voëlsang, vergesigte en varings, kleure in menigte klipvorms, watervalle, strome en ysige, maar verkwikkende poele. Dit alles en soveel meer het ons telkens in stilte laat stap, elkeen tree vir tree nader aan die self, hernuwe.
Vir meer inligting oor die stap self en waar om te bespreek, raadpleeg: https://www.hikingsouthafrica.co.za/tsitsikamma-trail