14.2 C
Mossel Bay
11th Aug 2022
Exercises and physical activitiesGeneral knowledgeNews

DIE IMPAK VAN SOSIALE MEDIA OP SPORTATLETE

Sosiale media het moontlikhede binne die sportbedryf geskep, beide vir geleentheid en risiko. Die potensiële risiko’s van plasings deur sportatlete op sosiale media-platforms kan lei tot duur litigasie, tensy dit behoorlik beheer en bestuur word.

Vir die meerderheid van die bevolking is sport ’n tydverdryf wat as ’n nie-beroepsgerigte ontspanningsaktiwiteit gespeel word of op televisie of ander mediaplatforms gekyk word. Vir ’n klein groep geseënde individue is dit ’n manier om ’n bestaan ​​te maak. Sport as ’n professionele beroep vereis fisiese vaardigheid, toewyding, konsentrasie en geestelike fokus en dus ’n gedissiplineerde lewenswyse wat onder andere die regte dieët, oefen en slaap insluit. Vir sulke persone kan ’n oomblik se verslapping in fokus of konsentrasie op sosiale platforms, wanneer dit by plasings kom, erge nagevolge inhou.  

Sportatlete moet hul loopbaan en verdienstepotensiaal gewoonlik oor ’n kort tydperk maksimaliseer. Daarom verkoop baie van hulle ook hul beeld as handelsmerk- en produkonderskrywing of gebruik sosiale media as ’n platform om winsgewende verdienste te skep. Daardeur bring hulle risiko’s verbonde aan sosiale media-platforms en plasings daarop te weeg.

Weens die skaarste aan suksesvolle atlete en/of die kort duur van ’n professionele loopbaan, moet spelers in sekere sportsoorte hul sportverwante verdienste met ander werke aanvul of sport heeltemal as ’n beroep laat vaar. Dit is hoekom sportatlete poog om verskeie inkomstestrome te skep, deur verskillende tipes bronne te gebruik (bv. sosiale media-plasings), terwyl die geleenthede nog beskikbaar is.

Wanneer ons diep na sosiale media en die impak daarvan op sportatlete kyk, is dit duidelik dat normale mense ook deur sosiale media beïnvloed word. Dit is omdat jy ’n blik kan kry van hoe dit is om geld te hê, beroemd te wees en ’n luukse lewe te geniet met net die tik van ’n vinger.

Daardeur word Jan Publiek ’n kykie gegee in die dag van die lewe van ’n sportatleet saam met miljoene ander honger volgelinge op toeps soos Twitter, Instagram en Facebook. Hierdie volgelinge is nie altyd daar om konstruktiewe redes nie, maar eerder om die held of sportster te probeer afbreek. Sommige word selfs gehuur om ’n negatiewe impak te maak. So ’n negatiewe impak kan die potensiaal inhou om die reputasie en loopbaan van ’n atleet te vernietig. Sommige sportatlete deel alles op sosiale media, onder andere vakansies, verlowings en geleenthede. Sommige huiwer ook nie om opinies te gee, hul oortuigings te deel en insette oor sekere sake te lewer nie. Dit sou groot gevaar inhou as die sleggesinde persoon hierdie inligting vind en dit teen die betrokke atleet gebruik.

Sosiale media verander die manier waarop sportatlete, klubs en aanhangers met mekaar kommunikeer. Van regstreekse twietspeletjies, die skep van snaakse memes en “cheerleading” vanaf die websfeer, kyk ondersteuners nie meer bloot na sport nie, en aanhangers kan dikwels nuus en insigte direk vanaf die bron of atleet kry. Dit is duidelik dat indien sportatlete nie hulle deelname op sosiale media-platforms kan beheer en bestuur nie, daar stewige skoolgelde betaal gaan word wat reputasie en loopbaan betref. Dit lyk of hierdie tipe gevalle en/of situasies geweldig toeneem en hou ’n gevaar in vir sportatlete of potensiële sportatlete.

Daar is genoeg rede om te glo dat “voorsorg beter as nasorg is” binne die sportbedryf, veral wat die deelname aan sosiale media-platforms betref. Dit kan dus, indien dit nie behoorlik oorweeg word nie, ’n mynveld vir sommige sportatlete inhou en baie maklik die atleet se goeie reputasie en publieke beeld beskadig.

Related posts

THE PROOF IS IN THE PUDDING!

Annlerie van Rooyen

ROOIKAT DEPOLYMERISATION PLANT

Annalie Barbolini

YOUTH MONTH

Jannes Buys

WAT VIR JOU BELANGRIK IS

Madelein Campher

Grootbrak Grabadoo

Mimi Finestone

Station 15 Mossel Bay NSRI

Laurinda Smit