17.3 C
Mossel Bay
29th November 2023
Community & LivingNews

DIE IRRITASIE!

Die scenarios is legio maar alles tog welbekend. So gereeld as wat die wind deur die blare ritsel, die maan oor die see skyn en alles in perfekte harmonie saamsmelt, gebeur dit!

Die buurman besluit om die een of ander rede dat die Sabbatsmiddag verband hou en opgehelder moet word met die onaardse klanke van die groep Black Sabbath! En dit raak inderdaad ’n swart Sabbatsdag. Swart van woede en frustrasie. Elke trillende uitgerekte kitaarsolo met ’n onaardse geskree maak die duiwel in jou los. Soveel so, dat jy laatnag as die lawaai bedaar het, skelm jou honde se bolle oor die buurman se heining lanseer …

Of jy en liefie steek kerse op en glip tussen die lakens in, met sagte klassieke musiek, en op die mees ongeleë oomblik word jy oorval met die wreedheid van ’n kettingsaag op ’n boomtak iewers, wat die intimiteit in twee kloof en die vlamme van passie met ’n waterkanon doof.

In Suid Afrika maak die Omgewings Bewaringswet 73 van 1989 en munisipale bywette voorsiening vir sekere gevalle van geraas. In Prinsloo v Shaw 1938, AD 570 bevind die hof “a resident in a residential neighbourhood is entitled to the ordinary comfort and convenience of his home, and if his neighbour causes annoyance greater to which a normal person can expect, then he has a legal remedy”.

Die hof in die saak van Laskey v Showzone onderskei tussen twee tipes geraas, naamlik steurende geraas en hinderlike geraas. Steurende geraas is objektief meetbaar en hinderlike geraas is subjektiewe geraas wat ’n persoon se rus versteur. Steurende geraas soos ’n fabriek se geraas is konstant en objektief meetbaar. Hinderlike geraas is die hond wat kef of die speel van harde musiek wat subjektief van aard is.

Regulasies 4 en 5 van die Omgewingsbewaringswet verbied steurende geraas as ’n voortdurende klank van 7 desibels of meer as wat voorgeskryf is.

Regulasie 5 handel met hinderlike geraas en omskryf verskeie scenarios wat verbied word. Die scenarios is, onder andere, speel van musiek of musiekinstrumente, lui van klokke en ’n geskree by verkopings, boureparasie en konstruksie van voertuie en enjins, afvuur van vuurwerke (behalwe met munisipale goedkeuring), geluide soos luidsprekers, alarms, motoralarms en toeters, masjinerie wat vir bv. houtwerk en staalwerk gebruik word, grassnyers, aflewering van goedere en kratte, en bestuur van voertuie op so ’n wyse dat dit geraas veroorsaak.

Vir die manne met die opgewarmde karre, en dié met klankstelsels wat ’n Lady Gaga konsert soos ’n Kersfeeskoortjie laat klink, is dit ’n waarskuwing.

Die eerste opsie om die lawaaiers vas te vat, is om die plaaslike owerheid in kennis te stel. Hulle kan jou klagte ondersoek, boetes uitreik en soms selfs beslag lê op die toestel wat die geraas veroorsaak. Jy kan ook die hof nader om ’n interdik te kry om die lawaaimaker stop te sit, of hom dagvaar vir skadevergoeding as jou kwaliteit van lewe en gesondheid beïnvloed word.

Die Wêreldbank se riglyn is 55 desibels per dag en 45 per nag. Wat beteken desibels? In leketerme is die geruis van blare 30 desibels, 35-46 die normale geraas in ’n huishouding in die nag, 70 desibels is harde musiek, en 85-100 desibels is binne in ’n disko op ’n Saterdagaand.

Daar is twee wyshede opgesluit in veroorsaking van geraas:

  1. Konsidereer die mense om jou, en wees eerder ’n muis met sagte gedruis as ’n vark op die boeremark.
  2. Moenie die oorsensitiewe brokkie wees wat oor alles kla by die juffrou nie.

Vir die komende maand: onthou “Silence is Golden” en “The Sounds of Silence” is uitstekende keuses as musiek en lewenstyl!

Related posts

PRECIOUS PENGUIN ENCOUNTERS AT SAPREC

Nadine Clarke

ADDO TURNS UP THE HEAT

Mariëlle Renssen

KUNSAASHENGEL IN DIE TUINROETE

Wouter Van Zyl

VAN GIVERNY TOT GROOT-BRAK

Linda Meyer

Great Brak Conservancy – Perspective from the Chair.

Scott Thomson

Hoe telemedisyne toegang tot gesondheidsorg transformeer.

See Website Reference