Die Klein Karoo, nes Namakwaland, spog jaarliks met ‘n kleure spel van blomme. Ry die Rooiberg Pas tussen van Wyksdorp en Calitzdorp tussen Junie en Julie en kry as bonus ‘n avontuur uitdaging, lieflike uitsigte en ‘n blommespel wat jou jaar na jaar sal laat terugkeer. Aalwyne, die natuur se eie kerse, word juis in dié tyd, wintertyd, in vurige oranje en rooi skakerings aangesteek en die uitsigte in alle rigtings is boonop asemrowend .
Vir ‘n voldag avontuur draai jy regs op die R 327 rigting Herbertsdale vanaf die N2 naby Mosselbaai. Die roete slinger oor die maklike Du Plessis Pas na Herbertsdale, volg dan die effe moeiliker Cloetes Pas wat afkronkel deur ‘n laagwaterbrug oor die Gouritsrivier en beweeg dan langs die oeragtige Langeberg tot by van Wyksdorp. Hier swenk jy regs af, verby Assegaay Bosch, deur die vlak Boschrivier en ry verby die Rooiberg Lodge ingangsbord.
Van hier begin die sports en word die helde van die grondpad se karakters gebou. Die Rooiberg Pas lê in die Rooiberg Bewaararea, ‘n 60 000 hektaar bergagtige streek wat deel is van die grotere Gouritz Biodiversiteits Meander, waar jy na elke 10 km byna ‘n ander soort plantegroei sien. Jy sien op dié uitdagende roete hoe die sanderige grond en kusagtige fynbos geleidelik verander na die kleierige grond van die Renosterveld, dan berg fynbos en uiteindelik Karoo vetplante en ervaar een van slegs 35 biodiverse “hot spots” in die wêreld waar die drie biomes bymekaarkom. Op pad na die kruin sien jy ook in die verte die Langebergreeks met diep dramatiese rafyne en die Gouritzrivier wat aan sy soom na die see toe vloei. Teeboskop pryk statig en hoog in die verte. Hoewel dié pas-pad tussen Van Wyks- en Calitzdorp slegs 23,4 km ver is, klim jy vinnig van ‘n skamele 210 m tot bo op die pas by 798 m hoog. Tog wag daar deurentyd ‘n visuele verrassing om elke draai van die 14 km lange pas.
Wanneer jy die kruin bereik, dink mens onwillekeurig terug aan die vertelling oor ‘n sekere ds. Odendaal wat die pas in die vorige eeu ná sy besoek aan die Gamkavallei by Calitzdorp na Van Wyksdorp aangepak het. Hy is tot bo op die kruin deur 12 bekwame ruiters vergesel. Hier het ‘n ander klompie ruiters hulle ingewag om die reisende godsman op die tweede skof na Van Wyksdorp, of Buffelsfontein, soos dit toe nog bekend was, by te staan. By die kruin gekom, het die dominee en sy entourage eers ‘n gebed gedoen, Ps 146 gesing en elkeen ‘n klip gestapel uit dankbaarheid dat hulle die gevaarlike pad tot sover oorleef het.
Die pad soos dit deesdae daar uitsien, is gedurende 1928 gebou en lyk beslis beter as die ‘ossewa pad’ wat gedurende die Anglo Boereoorlog deur Kommandant Gideon Scheepers in September 1901 gebruik en beskryf is.
Die Rooiberg Pas is steeds plek-plek enkelbaan benouend-nou en die 69 haarnaalddraaie, hoeke en kurwes, skielike op- en afdraandes en los boulders maak dat die bestuurder heeltyd gefokus moet bly.
Ons stop sommer waar die gevoel ons dra. Die ver uitsigte, stilte en heerlike soet reuke van die pypie-agtige erikas, plakkies, spekbome, klapperbos en ander plante laat jou ver verwyderd van enige beskawings voel. Jy sig-sag versigtig teen riwwe soos Grootkloof en Waterkloof uit en pak weer, saam met ds. Odendaal van ouds, ons klippies op die kruin van die Rooiberg pas.

previous post
next post