15 C
Mossel Bay
12th Aug 2022
Community & LivingNature & NurtureTourism & Travel

DIE KRUGER NASIONALE PARK HET VELE GESIGTE

In die ná-winter begroet ’n verruklike beeldetuin jou – kaal stamme, kleedloos maar lieflik. Jy vergaap jou aan die tussenruimtes van die takke van die boombeelde wat teen die blouste lug uittroon. Met voór-herfs lyk die enorme Park weer totaal anders – grassade staan meer as heuphoogte en die mopanies jubel dit uit in plate en plate herfskleure. Dis teen hirdie herfsagtergrond dat ons einde April die Wildtuin besoek.

Die onbekende onverwagte …  

Ons is skaars deur die Phalaborwa-toegangshek op die H-9-teerpad of die argeologiese besigtigingspunt lê na 12 km slap regs. Die gewaarwording van ’n grotere, holistiese teks begin jou stadig  omvou. Hier, by die Masorini Argeologiese Bewaringsterrein, dring die bewussyn dat ’n groter dimensie as net die voor die hand liggende teenwoordig is. Hier is veel meer as die retoriese vraag van “Het julle die Groot Vyf gesien?”.

Oeroue geskiedenis ontvou voor jou by Masorini. By die  argeologiese terrein uit die Ystertydperk hoor jy dat hier weliswaar bewyse gevind is van oermense wat so vroeg as 1 500 jaar gelede in die area gewoon het.   á

Dapper stappers begin spoorsny

Ons is eintlik in die Wildtuin om te kom stap. N Masorini vat ons pad na die Letaba-ruskamp toe om die res van die stapgroep en ons twee gidse vir die volgende drie dae te ontmoet. Hier los jy jou eie rygoed en ry op ’n oop wildbesigtigingsvoertuig na die eindbestemming. Die aandstilte en herfslug hang swaar toe ons uiteindelik vroegaand by Twanana, ’n lieflike, afgesonderde kampterrein in die Shongololo-rivierlopie aankom. Basies en ver bo verwagting wag die huisies met enkelbedjies en warm storte vir ons agt avontuursoekers wat vir die volgende drie dae meer van die veld wil leer.

Die oggendstond het voorwaar goud in die mond, dink jy hardop wanneer jy vroeg soggens, net na dagbreek, wakkergeklop word deur een van die gidse. Koffie en beskuit, tesame met peuselgoed, wag reeds by die kuierlapa voordat jy vertrek vir die oggendveldstap.

Dit is duidelik dat Aaron Mkansi, ons gids, reeds 18 jaar ’n gids in die Kruger Nasionale Park is. Sy wysheid en insig slaan reeds met sy protokolpraatjie by die eerste stapoggend deur. Hy noem die veld sy koerant, hou die dinamika tussen die groepie behendig dop en laat jou sintuie oortyd werk. Ons ontpop in kranige mikstok-waterwysers, glo dat die bome beslis vir mekaar boodskappe stuur en verkyk ons aan die blou sysies wat skelm kom groet.

Tot ons verbasing boots hy voorts die witkoluiltjie (Glaucidium perlatum) se roep na.

Vir twee dae verken jy soggens met oop ore en wakker oë die oorvloed van die veld en keer teen laatoggend terug vir ’n uitgebreide brunch en middagslapie. Aan die einde van die drie dae kwalifiseer jy boonop vir jou PooHD, want daar is bykans geen dierlike sekresie wat nie bekyk is nie!

Hier, in die hartjie van Afrika, met die Bosveldson wat liggies oor jou vel streel en die opdringerige skerp reuk van die aartappelplant in jou neus, resoneer Johannes Kerkorrel se Halala Afrika skielik met jou binneste.

Die Wildtuin is voorwaar meer as net die Groot Vyf – dit besef jy na drie dae van fyn kyk en fyn trap aan die hand van ’n fyn veldmens, ’n uitsonderlike gids wat die veld en sy groep soos ’n boek lees.      

Related posts

WALKING WITH A PURPOSE FOR SPECIAL NEEDS CHILDREN

Elsa Davids

Slugs and snails and puppy dog s’ tails…

Wendy Wiles

KLEIN DADE IS BETER AS GROOT WOORDE

Laurinda Smit

Lights & Lanterns Spectacle 2018

Annlerie van Rooyen

My Financial Bucket List for 2020

Des Sinclair

DIE REGSPOSISIE VAN ’N PERSOON SE SOSIALE EN DIGITALE VOETSPOOR IN DIE PUBLIEKE SFEER

Zancha Kruger