16 C
Mossel Bay
3rd Oct 2023
Community & LivingHikingNature & NurtureTourism & Travel

DIE NUWE “EEUOUE” IMAGINE-ROETE

Die Baviaanskloof in die Oos-Kaap is ’n smal, 200 km lange strook wat omvou word deur die Baviaans- en Kougaberge. Dit is selde op enige plek wyer as 3 km. ’n Loodsgroep van 19 stappers uit die Mosselbaai-omgewing het onlangs die nuwe Nuwekloof- Imagine-roete in die Baviaanskloof gaan verken. Die speldval-stiltes, sagte roeringe van herfsgras en ruwe skoonheid wat jou om- en toevou, intensifiseer behoorlik al jou sintuiglike belewenisse.

NUWE TOERISMETOEVOEGING

Die Imagine-roete is die nuutste toerismetoevoeging van Boetie en Henriëtte Terblanche van die plaas Rietrivier, so 50 km vanaf Willowmore. Nes ons naweekslaapplek in hul Makkedaatgrot, is die roete uniek en ideaal vir avontuursoekers en ’n pluimpie vir die Terblanche’e se innoverende idees.

Die inligtingstuk wat Boetie Vrydagaand na sy inligtingspraatjie vir die stappers op die tafel van hul blyplek laat, som die doelwit van die nuwe roete perfek op: “To discover our natural wonders unique to Baviaanskloof, and give our support and voice to the preservation of our natural heritage.”

Vroegdag op die koelerige Saterdagoggend laai Boetie ons af by die informasiebord op die hoogtetjie van die Nuwekloofpas. Voor jou lê daar ongeveer 10 km van ongeskonde skoonheid. En so begin die heuwels en berge, die sigbare oerteks rondom, dringend en hard met ons te praat.

’N WARE VERBEELDINGSTOG

Die Imagine-roete is tereg ’n skattejag wat die deelnemer uitdaag om in die unieke rotsformasies (wat ook met GPS-verwysings in die inligtingstuk aangedui word) voorbeelde raak te soek wat in die natuur uitgesonder word. Die regop Uilrotsformasie bring as’t ware hulde aan die dapper sleutelfigure in die ekosisteem wat peste en plae onder kontrole hou. By die Bobbejaanskedelrots dink jy aan die rol van bobbejane in die vallei en by Aasvoëlklip besef jy weer watter belangrike rol dié skoonmakers in die ekosisteem speel. Daar is tans 15 natuurlike rotsvoorstellings in die pas wat lyk soos ’n luiperd, renosterkop en vele meer.

Sondagoggend eet die groep ontbyt saam by Verberg Roadhouse, 18 km van die naaste teerpad af. Die Kloof lê amper agter ons, maar die mega-galery van die natuur se eie rotskunsbeeldhouwerke sit gegraveer in jou geheue. Jy wens saggies vir Boetie en Henriëtte Terblanche geluk wat die potensiaal van die unieke rotsroete raakgesien en ontwikkel het. Hoe het hulle geweet dat ’n mens nie onaangeraak daarvan sou kon weggaan nie? Dat die oertekste so sal resoneer in jou eie onderbewuste?

Related posts

PERSONAL FINANCE: YOUR PRACTICAL 2021 FINANCIAL YEAR PLANNER

Neesa Moodley

EGSKEIDING NA AFTREDE

Gavin Jordaan

24ste George Ou Motor Skou ‘n groot sukses

Mimi Finestone

HOW TO INCREASE YOUR SELF-CONTROL

Arash Emamzadeh

RUSTIG …

Laurinda Smit

Cracking the egg code.

Sally Adam