22.4 C
Mossel Bay
28th November 2023
Arts & CultureTourism & Travel

DIE RIMPEL-EFFEK VAN HOOP

Hoop is ’n woord met ’n inspirerende ondertoon. Deur die eeue is dit kunstenaars wat met hul innoverende, inspirerende kunswerke die onsigbare “hoop” vir ons gewone sterflinge tasbaar en konkreet vergestalt. Hoop en inspirasie trek in grendeltye en krisisse verskillende baadjies aan. Dwarsoor die wêreld het woonbuurte onlangs beleef hoe musiek in die stilte van die aand jou siel lig wanneer dit onverwags oor digbeboude woonstelblokke na jou toe aangesweef kom. In Rome het Cinema da Casa begin om grepe uit geliefde rolprente op woonstelblokke in die Trieste-Salario-area te projekteer.  

DIE GUGGENHEIM-MUSEUM

Met een gebouhet die argitek Frank Gehry in 1997 hoop en inspirasie na ’n sukkelende stad, Bilbao, in die noorde van Spanje gebring wat sedert sy opening jaarliks ’n miljoen meer mense daarheen laat stroom het. Met die futuristiese, ikoniese ontwerp van die Guggenheim-museum het dié Kanadees-Amerikaanse argitek ’n manjifieke gebou vir die Balkiese stad voorgehou wat voorwaar ’n“droomprojek met ’n hoop-effek” vir sy inwoners bewerkstellig het.  

Vanaf die 19de eeu tot die 1970’s, was Bilbao, in die Baai van Biscay, die belangrikste hawestad in Baskeland. Met die stad se strategiese ligging teen die Atlantiese oseaan het Bilbao se ekonomie, wat hoofsaaklik uit skeepsbouery en staalproduksie bestaan het, gedy. Mettertyd het hierdie industrieё ongelukkig nie tred gehou met tegnologiese ontwikkeling nie en teen die 1980’s was heelwat skeepswerke en staalfabrieke verlate en werklose werkers op straat. Bilboa was ook die “hoofkantoor” van die Baskiese seperatistiese organisasie, die ETA, wat verantwoordelik was vir verskeie terreur-aanvalle.

Die Guggenheim-stigting, (wat in 1937 gestig is en daarop fokus om moderne en kontemporêre kuns deur uitstallings te bevorder), was aan die begin van die 1990’s op soek na ’n geskikte standplaas vir ’n nuwe Europese Guggenheim-museum. Die stadsowerhede van Bilboa het die waarde wat só ’n bekende “temple of art” vir die afgeleefde stad kon beteken, ingesien en was onmiddelik geïnteresseerd in die projek.

Jy verwonder jou aan die grootskaalse, futuristiese ontwerp wat byna soos ’n kruising tussen ’n palazzo en ’n skip lyk en verkyk jou aan die gebou van titanium, sandsteen en glas wat grootliks die inspirasie en motivering was vir die gesigsontrimpeling van die afgeleefde stadsgesig aan die oewer van die Nervion-rivier. Selfs die stadsbewoners wat gevoel het dat die fondse eerder na modernisasie van ou fabrieke moes gaan, het perspektief en nuwe hoop met die Guggenheim-effek begin beleef.

“DE VERWOESTE STAD

In Rotterdam, Nederland, simboliseer “De Verwoeste Stad”, ’n beeldhouwerk met ’n gat waar die hart moes wees, die ontredding én hoop na die verskriklike verwoesting van die Tweede Wêreldoorlog.

Die kunswerk, wat op 15 Mei 1953 op Plein 1940 onthul is, beeld ’n groot geknelde menslike figuur uit met ’n verwronge gesig, arms en hande wat desperaat in die lug gegooi word. Die gat waar die bors of hart moes wees, simboliseer hoe die hart van die stad en sy mense op een dag uitgeruk is. “Jan Gat”, so word “De Verwoeste Stad” ook genoem, is Ossip Zadkine en Rotterdam se bekendste beeldhouwerk. Zadkine was geweldig beïnvloed deur sy eerste blootstelling aan kubisme 1910 in Parys. Dié avant-garde-kunsbeweging het Zadkine ongetwyfeld beïnvloed om sy primêre tema, die menslike figuur, as ’n interaksie van lyne, en oop en toe abstrakte geometriese vorms, te hanteer.

Die 6,5 m-beeldhouwerk van brons herdenk die verwoestende inval van 14 Mei 1940 toe die Duitsers die ou stadskern van Rotterdam totaal verwoes het in ’n poging om ’n vinnige oorwinning oor Nederland en Belgiё te behaal in hul opmars na Frankryk. In net 15 minute is 97 000 kg bomme in die stadskern gewerp.  

Jy kyk met ontsag na hierdie amper surrealistiese beeld en ervaar die onvermydelike emosionele konflikte wat dit by jou oproep. Die kunswerk is ’n herinnering aan die verlede, maar ook ’n inspirasie van hoe die Rotterdammers hoopvol en met harde werk hul stad herbou het.

“FAITH”

In Genk, in die Limburgse Provinsie van Belgiё, is daar onlangs ook ’n monumentale beeld onthul. Met uitgestrekte arms na bo is “Faith”, die 7,5 m hoё kunswerk van die bekende Suid-Afrikaanse beeldhouer, Anton Smit, op 1 September 2019 in Genk onthul. Hierdie inspirerende werk verwelkom besoekers by die eertydse myngebied en simboliseer menslike sterkte en die hoop op ’n beter toekoms.

In 1901 is steenkool in Genk ontdek en die huidige stad het teen 1960 ontwikkel van ’n landelike dorpie na ’n multikulturele industriёle omgewing. Genk, wat op die Kempen-steenkoolrif gelёe is, het mynwerkers soos ’n magneet van die vier hoeke van Europa aangetrek. Die steenkoolmyne was egter teen 1990 uitgewerk en buite aksie, met werkloosheid ’n dwingende probleem vir sy myners.

’n Geskiedenis van sosiale groei, menslike lyding en die vermoё om weer uit moeilike omstandighede op te staan word triomfanklik deur “Faith”, wat tot Augustus 2020 in Thor Park staan, gesimboliseer.  

Net so kon 31 miljoen mense die rimpel-effek van hoop eerstehands ervaar toe Andrea Bocelli, die 61-jarige blinde Italiaanse operasanger op 12 April sy “Music for Hope”-uitvoering in die geslote Duomo di Milano-katedraal gehou het. Musiekliefhebbers rondom die wêreld kon deel aan 25 minute se hemelse musiek wat hoop in ’n gegrendelde Paastyd gebring het.

Related posts

BRIDGES … A MEANS OF CONNECTING

Mariëlle Renssen

THE ART OF WRITING

Lydie Terblanche

MURAL CAPITAL OF THE WORLD

Mariëlle Renssen

INSPIRASIE UIT THE POST!

Annlerie van Rooyen

THE CONSERVATION CONUNDRUM

Scott Thomson

NEW BOARDWALKS AT SUIDERKRUIS BEACH

Scott Thomson