23 C
Mossel Bay
1st December 2023
Community & Living

Die Storie van die Bul en die Beer

BAIE BELEGGERS RAAK PANIEKERIG WANNEER DIE MARK SE SKOMMELING TOENEEM SOOS OOR DIE LAASTE PAAR JAAR.  DIKWELS LEI DIT NA ‘N TOEVLUG TOT KONTANTBELEGGINGS SOOS GELDMARK, TERWYL DIT PRESIES DIE VERKEERDE TYD IS OM DIT TE DOEN.

Kontant het beslis sy plek in enige weldeurdagte beleggingsplan.  Dit kan ‘n goeie idee wees om tydelik ‘n deel van jou bates te “parkeer” om sodoende korttermyn verpligtinge na te kom of om voordeel te trek uit nuwe beleggingsgeleenthede.  Dit is egter belangrik om die groot prentjie van jou hele portefeulje in ag te neem.  Daar is ‘n geleentheidskoste om te veel kontant in jou portefeulje vir te lank te hou.

POGINGS OM DIE MARK TE PROBEER VOORSPEL IS STATISTIES BEWYS AS ‘N SWAK OPLOSSING

Pogings om die mark te voorspel deur jou beleggings na kontant te skuif in onstabiele tye, is nie ‘n goeie oplossing om markskommelinge te hanteer nie.  Daar is verskeie redes hiervoor.

Wanneer volatiliteit hoog is, kan ‘n instruksie om vanuit byvoorbeeld aandele na kontant te skuif, ‘n risiko veroorsaak omdat jou aandele eenhede verkoop word nadat die mark teruggesak het.  Daarmee word jou verlies op papier ‘n werklike verlies.

Ons weet dat beleggingsmarkte wat daal oor die algemeen weer styg.  Die daalfase is die Bere waarvan ons nie hou nie en die stygfase die Bulle wat welvaart skep vir maatskappye en beleggers.

Inteendeel, dit is dikwels in uiters onstabiele tye wat markte onverwags en skielik herstel.  Deur na kontant te skuif wanneer die mark laag is, beroof jy effektief jouself van ‘n geleentheid om jou belegging se waarde toe te laat om te herstel as gevolg van positiewe markbewegings.

Hier is ‘n voorbeeld ter illustrasie:

As jy ten volle in die JSE Alle Aandele Indeks vanaf 1 Mei 2005 tot 30 April 2015 belê het,  sou jou belegging in totaal met 334% gegroei het.  Maar as jy gepoog het om die mark te probeer voorspel oor hierdie periode en gevolglik die 5 beste dae gemis het, sou jou totale opbrengs 219% gewees het.  Dit is ‘n hele 115% minder!

Met ander woorde die beste 5 dae in genoemde dekade was verantwoordelik vir 115% of meer as ‘n derde van die totale opbrengs!  As jy die beste 10 dae gemis het, sou jy jou totale opbrengs gehalveer het.

Die goue reël is dus om tyd in die mark te spandeer en nie die mark te probeer voorspel nie.

DIE VERWERENDE EFFEK VAN INFLASIE

Rente op kontant is ten volle belasbaar in die hande van die belegger.  As jou marginale belastingkoers byvoorbeeld 25% is, gaan SARS ‘n kwart van jou opbrengs neem.  Indien ‘n inflasiefaktor van ‘n verdere 5% in ag geneem word, bly daar maar min oor.  Verder moet fooie ook nog afgetrek word.

WAT IS RISIKO?

Beleggers skuif na kontant om risiko te vermy.  Die probleem met die woord “risiko” is dat daar baie definisies is van wat dit beteken. Ek dink dit is nou duidelik dat beleggings in groeibates soos aandele en eiendom ‘n moontlike risiko dra, maar kontantbeleggings oor lang termyne het ‘n besliste risiko.

Om nou paniekerig te raak oor byvoorbeeld die twis tussen die direksie van Old Mutual en Mnr Moyo en beleggings weg te neem van een van die land se grootste versekeraars, sou dwaas wees.  Dit is ‘n korttermyn probleem.  Old Mutual is ‘n reus in die finansiële industrie en sal dit goed oorkom.  Wees versigtig vir emosionele besluite, kry goeie advies en hou by die plan.  Sterkte met jou beleggings!

E-pos:   desmond.sinclair@liblink.co.za

Related posts

INTO THE WILD

Kelli Clifton

Inspirerende Landbouprojek vir Jeug in Groot Brakrivier

Laurinda Smit

HOPE IN DIFFICULT TIMES

Annlerie van Rooyen

SIX THINGS TO CONSIDER BEFORE RETIRING

Gareth Collier

THE PATH TO THE BEACH                    

Mel Walton

MARTELIZE BRINK TO PARTICIPATE IN THE 2019 OCC

Mimi Finestone