Heleen Coertze
Ons ry vroeg Saterdag oggend, rigting noord op die N2 vanuit ‘n nat George met die Tsitsikamma bos as eindbestemming. Dit is presies dieselfde pad wat ons twee jaar gelede, net ná die verwoestende veldbrande gery het om na die verskriklike brandskade te gaan kyk.
Die N2, vanaf George na Tsistsikamma, is voorwaar een van die heel mooiste gedeeltes op die Tuinroete. Groot, massiewe bome met lieflike name soos Kalanders, Suurbessie en Witstinkhout (Celtis Africana) omsoom op sekere gedeeltes die pad. Meng dan die heerlike soet geur van die Saliehout (Buddleja Salvifolia), spierwit Varkore of Wilde dagga wat verskillende tye van die jaar blom en jy het ‘n allesomvattende hemelse ervaring.
Met wisselende reёnpatrone wat eerder skaars as reёlmatig is, was die Suid-Kaap onlangs wѐl onder die gelukkige streke om heelwat goedheid uit die hemel te ontvang. Wanneer jy direk daarna hoor dat daar massas pienk en oranje watsonias noú langs die teerpad naby die Stormsrivierbrug pronk, is daar nie veel verskonings oor as om dadelik in die pad te val nie.
Vanaf George draai die N2 see se kant toe. Die magies-mistige-mooigeit buite resoneer voelbaar met die kinderlike verwondering van die insittendes binne in die voertuig. Terwyl jy moeitevry en wetsgehoorsaam op 60 km per uur deur Kaaimanskloof gly, verstaan jy eensklaps hoekom diѐ stukkie pad met sy baie diep klowe, een van die kopkrapper gedeeltes vir die padbouers tussen Kaapstad en Port Elizabeth in die middel van die 19 de eeu was. Die huidige pad kruis die Kaaimans-en Swartrivier met ‘n vrydraende betonbrug oor Kaaimansgat waar die gewilde Kaaimans Restaurant sy besoekers met sushi en pizzas lok en waar jy elke dag van 8-5 kan kyak.
Wildernis-dorp word omsoom deur die Wildernis Nasionale Park en vorm deel van die Tuinroete Nasionale Park waar die beleid van ” bewaring sonder grense ” beoefen word. “Hierdie nuwe model plaas nogals ‘n groot onus en mede- verantwoordelikheid op die meer as 1 000 privaat eienaars wie se grond die Park en bewaarde area omsoom” laat my reismaat val.
Voordat jy egter te diep insak in die vraagstukke en slaggate van bewaringbeginsels, ry jy verby Wildernis, Timberlake met sy eiesoortige winkeltjies tot in Sedgefield met sy Mosaiёkroete. Ons hou verby die bekende Sedgefield- boeremark wat elke Saterdag, regdeur die jaar, ‘n groot gunsteling vir die plaaslike inwoners is. Vanoggend is geen uitsondering nie en dit lyk of die hele Gauteng en Kaapstad ook hier kom uitspan. Die Ganzvlei melkplaas, net voor die Buffelsbaai afrit en die Goukammarivier, lê soos altyd pastoraal-groen reg langs die pad.
Die Phantom Pas-afrit wink links en herinner jou om volgende keer die Sewepas roete van duskant af “terug”, deur die stilte van die woud, Saasveld toe te ry. Knysna is meregebied , maar vandag is daar geen optimistiese seilbootjies op die water te sien nie. Hoewel Knysna slegs 64 km ver vanaf George is, voel dit voorwaar of jy reeds ‘n paar ure van indrukke- inneem agter die oog het. Binne die dorpie is die gewone Saterdagoggend miernes aan die skarrel. Ten spyte van die lawwe misreëntjie lok die oulike kunswinkeltjies, spesiale koffiewinkeltjies en bekende Thesen Eiland steeds optimistiese toeriste.
Tussen Knysna en Plettenbergbaai sien jy kort-kort ou plantasies met nuwe denne aanplantings. Die boompies staan regop en kordaat in gelid en jy hoor behoorlik hoe hul wortels die klam grond inskiet. Dis juis in diѐ strook pad waar die verwoestende veldbrande van 7-12 Junie 2017 groot gedeeltes verwoes het. Die alles-vernietigende vuur het veral naby Knysna formele en informele behuising verwoes ѐn sewe lewens geeïs. Die riller was nog nie verby nie – skaars ‘n jaar later, teen die einde van Oktober 2018 beleef die Tuinroete ‘n inferno wat glo 4 keer die grootte van die 2017 brande was. Volgens die Joint Operations Centre se verslag is daar toe binne 10 dae meѐr as 86 000 hektaar deur veldbrande in die Tuinroete verwoes.
Vandag is daar heuphoogte massas pienk heide naby Bloukrans se Bungy Jumping stop en verder aan by Witteklip rek hul kophoogte toe. Jy is nou in Sarah Baartman se wêreld en Lottering en Elandsbos plantasies rits langs jou verby. By Daleen Matthee se bosstories en Big Tree hou die kalanders wag oor die pad soos pligsgetroue soldate.
En dan sien jy dit…… spikkels van pienk, salm en oranje wat jou flambojant op hierdie klam Saterdagoggend inwag. In hul beste feesklere wieg en kopswaai die lelies van die veld asof in ‘n ramba. ‘n Ongelooflike kleurespel vrolike watsonias, waai, jubel en dans op die maat van die stuitige somer reёntjie.
Jy hou summier stil, trek van die pad af en omhels hierdie stukkie hemelse genade met oop arms. Jy verkyk jou aan die lang, smal blare wat ‘n waaier rondom die basis vorm en die salm en oranje kleure wat subtiel wissel in diepte en skakerings. Die verruklike skouspel van veelkleurige pypie-agtige blomme, afge-ets teen grys-swart verbrande stamme, is verstommend seerkry-mooi. “Watsonias is daarvoor bekend dat hulle uitsonderlik blom wanneer goeie reёnneerslae na ‘n bosbrand volg ” laat my ingeligte reismaat gepas val. “Tekens van konkrete Hoop”, herdoop jy summier die slanke bolplantjie met die wegryslag-. Wanneer jy dink dat daar ná ‘n brandverwoesting niks, maar niks ooit weer hier kan groei nie, dán juis ontplof hier ‘n kleureskouspel direk nádat die hemelsluise sy genade-deure oopgegooi het. Jy dink skielik aan die papawer wat hoop simboliseer in Pablo Piccaso se ikoniese skildery Guernica en ry dankbaar en verwonderd terug huis toe.