14 C
Mossel Bay
28th May 2023
Community & Living

DIE VROUE ORGANISASIE IN VANDAG SE DAE

1929 was wêreldwyd ʼn onstabiele en uitdagende jaar. Die nasleep van die Eerste Wêreldoorlog (1914-1918) het ekonomiese probleme veroorsaak en Europa het gesukkel om oorlogskuld en -herstelwerk te hanteer. Dit alles het bygedra het tot die krisis wat tot die Groot Depressie gelei het. In Amerika (die VSA), het die Groot Depressie begin met die dramatiese inploffing van die aandelemark op “Black Thursday”, 24 Oktober 1929. Hier in Suid-Afrika het pryse van primêre landbouprodukte in die tweede gedeelte van 1928 reeds begin afneem, maar die verkrummelde gevolge het eers in 1929 ʼn werklikheid geword en gelei tot ernstige ekonomiese agteruitgang. In daardie dae was hoër onderwys vir vroue die uitsondering; landelike gebiede was in groot mate geïsoleer; en daar was ‘n werklike behoefte aan sosiale diskoers. Vir die jonger geslag was daar min rede om op die plase te bly en volwasse onderwys en verbeterde fasiliteite vir die jeug was ‘n dringende behoefte. Vroue, en in dié stadium meestal boervroue, was verplig om by te dra tot die gesinsinkomste en om huishoudelike produkte ten volle te benut.

Hierdie wanhopige agtergrond het egter ook hier ter plaatse tot geïnspireerde idees gelei. Nie net het die Spoorweg-roetes in 1929 geopen nie, Union Airways (genasionaliseer as die Suid-Afrikaanse Lugdiens in 1934) is ook in 1929 gestig. Verder is daar in ʼn poging om landgenote te organiseer in ‘n nasionale liggaam vir die verbetering van landelike lewe en die bevordering van kultuur, die nie-polities, nie-sektaries, tweetalig en oop vir alle vroue bo 16 jaar Vroue Landbou Vereniging van Kaapland (VLVK), op 15 Oktober 1929 te Franschhoek gestig.

Jy kan maar vra hoekom hierdie stukkie geskiedenis in 2020 opgedelf word, want die antwoord is dat ons die scenario herken. Hier in Suid-Afrika is daar vandag nie ʼn tekort aan dinge om oor depressief te voel nie: die politieke landskap van korrupsie en faksiegevegte, staatskaping; bykans geen ekonomiese groei nie; werkloosheid, die uittog van denkers en kenners (“brain-drain”); die agteruitgang van onderwys, die stand van Eskom en ander eens sterk bydraende nasionale organisasies; die verstrengeling van die landbou deur slepende droogtes in verskeie areas en dan die onsekerheid wat gepaardgaan met die wolk van grondonteiening. Die lys is eindeloos…

Te midde van al die negatiewe staan die Vroue Landbou Vereniging van Kaapland na 90+ jaar steeds sterk en is wéér (as dit nie altyd was nie), relevant en broodnodig. ʼn Organisasie wat ons as vroue geleenthede bied om bydraes en bystand te kan lewer vir die opheffing van die gemeenskap in die breë. Vir oningeligtes was die Vroue Landbou Vereniging (Kaapprovinsie) en die Vroue Landbou Unie (ander provinsies), nog altyd ʼn organisasie waar tannies bak en brou en vir kompetisies inskryf. In werklikheid is hierdie aktiwiteite slegs ʼn onderafdeling van een van die ses fokus-areas, naamlik leefstyl, openbare sake, opvoeding, kuns, landbou & tuinbou en gesondheid. Bowenal staan die organisasie vir alle Suid-Afrikaanse vroue van alle kulture om deur die bevordering en verbreding van kennis en vaardighede hulle eie potensiaal te bereik, om enige uitdaging wat aan die nasie gerig word met vertroue aan te durf en haarself te kan handhaaf in ʼn veranderende Suid-Afrika.

As jy volgende keer weer iets van die VLV se bedrywighede raaklees, kyk gerus met nuwe oë na die impak en verskil wat ʼn groep vasberade, vriendelike en vlytige VLV vroue in jou gemeenskap maak.

Vir meer inligting oor die VLV Kleinbrak-tak, kontak gerus vir Lynette Nel by 083 448 5548.

Related posts

MNR. OUTENIQUA

Ane Zevenster

Stranding Seminaar Groot Sukses

Tersia Marais

DOORNHOEK: HISTORIC STAY IN A NATIONAL PARK

Mariëlle Renssen

VAN NUUSKIERIGHEID IS DIE ALBUMS VOL

Madelein Campher

LIGHTS & LANTERNS FESTIVAL 2018

Annlerie van Rooyen

’N TESTAMENT – PRIORITEIT VIR ALMAL SE TE-DOEN-LYSIE

Zancha Kruger