Septembermaand is hier! Al is daar nog ’n byt in die lug bring die lente altyd vrolikheid, nuwe passie, herlewing en energie. Op skool kon ons op 1 September gewone klere skool toe aantrek – tot groot opwinding van al die kinders!
Die draai van die seisoen herinner ons altyd aan ’n nuwe begin. Orals is dit sigbaar in elke nuwe blaartjie, in elke bloeisel wat bot. Eersdaags staan vrugtebome soos lentebruide in die boorde.
Vroeglente is ’n goeie tyd om jou lewenskoers weer in oënskou te neem. Oordink die dinge wat jy wil verander, besin oor wat belangrik is vir jou toekoms wat voorlê, watter verhoudinge vir jou kosbaar is en watter hul vervaldatum bereik het of net vir ’n seisoen bedoel was.
Die seisoen se wisseling is ook ’n tasbare bewys dat die gevolge van verkeerde besluite, krisisse en lewensprobleme verganklik is – lê dit dus neer. Elke vroeër sonsopkoms is ’n dag nader aan ’n nuwe roeping, elke dag hou weer nuwe beloftes in. Waag om te word!