16 C
Mossel Bay
3rd Oct 2023
BusinessCommunity & LivingGeneral knowledgeRelationshipsTourism & Travel

DOEN WAT JOU HAND VIND OM TE DOEN

Almal hou van ’n suksesverhaal. Die beste soort is dié waar daar geen hoop op verandering of verbetering blyk te wees nie, maar tog gebeur die ondenkbare (met vele harde werk en groot visie), en iets negatief word omgekeer in iets positief.

Van my gunsteling-voelgoedverhale is dié van gemeenskappe wat self hand aan die ploeg slaan om hulle omstandighede te verbeter. Die meeste van ons dra kennis van gemeenskappe soos Koster en Harrismith, waar daar ’n totale verval van noodsaaklike dienste soos watervoorsiening, sanitasie en vullisverwydering was, en gewone burgers uit die gemeenskap moue opgerol en deel van die oplossing geword het. Dit is ’n riem onder die hart om te sien hoe mense uit alle kulture en agtergronde opgehou het om na ander te kyk om die oplossing te bring, maar sélf besluit het om die oplossing te wees. Dorpe soos Kroonstad het dit ’n stappie verder geneem. Tuine is aangelê om die dorp weer tot sy vorige glorie te verfraai sodat inwoners weer trots kan voel op die dorp waarin hul woon. Spesifieke mense of besighede het verantwoordelikheid geneem om nie slegs ’n gedeelte te ontwikkel nie, maar ook te onderhou! Mense moes by ’n punt kom waar hul besef dat omstandighede slegs sal verander as hulle hul siening teenoor die saak verander en self tot die oplossing sal bydra. Hul ingesteldheid moes verander van wag (tevergeefs?) dat iets gebeur, tot “Kom ons laat dinge gebeur!”. Wat sal die uiteinde wees as ons wag en wag en ’n verbetering in omstandighede vind nie plaas nie?     

Wanneer ons daarop ingestel is om die “oplossing te wees”, sal die wêreld ’n baie mooier en beter plek wees. Sien ek bv. rommel rondlê en tel dit op, het ek ’n klein tree gegee om op te staan vir ’n wêreld waarin ek graag wil leef. Ver meer as dit egter, het ek getrou gebly aan wie ek waarlik is en nie gelyk geword aan dít waarteen ek stry nie. Wanneer ek goed doen waar ek is, met wat ek het, vir wie dit nodig mag hê, stel ek my eie behoeftes in der waarheid tweede, na die behoeftes van ons almal. Dit is die materiaal waarvan voelgoedverhale gemaak word – om ’n skynbaar hopelose situasie te omskep, met die enigste hand wat help, die een aan die einde van ons eie arm.

Related posts

10 NSRI-VEILIGHEIDSWENKE VIR SWEM BY STRANDE

NSRI

STAYING MOBILE AND FLEXIBLE IN BODY AND MIND

Annlerie van Rooyen

ANNA DAVEL IN GROOT-BRAK TYDENS DIE MUSEFEES!

Anna Davel

SUPPORTING THE SWEETHEARTS FOUNDATION

Lydie Terblanche

DIE BALLERINAS ONDER DIE BLOMME

Vlam van Deventer

Haro, Town of Festivals & Rioja Wines

Mariëlle Renssen