’n Groot hoeveelheid ink is in die afgelope dekade gestort om die gevolge van egskeiding op ’n gade se Pensioenbelang te bespreek, wanneer hulle binne gemeenskap van goed getroud is, welke die gevolg en natuurlike uitvloeisel van veranderinge oor tyd is aan beide die Egskeidingswet (Wet 70 van 1979) en die Pensioenfondswet (Wet 24 van 1956).
Sonder om feite wat algemene kennis is te herhaal, sou dit verstandig wees om daarop te let dat hierdie veranderinge daarop gemik was om uitvoering te gee aan die “skoonbreek”-beginsel wanneer dit by partye se Pensioenbelange by egskeiding kom en ’n nie-lidgade dan geregtig is op 50% van die lid se Pensioenbelang by egskeiding, wanneer hulle getroud is binne gemeenskap van goedere.
Hierdie veranderinge is verwelkom aangesien die Hof by die toestaan van ’n Egskeiding sal gelas dat die lidgade se Pensioenfonds 50% van die lidgade se pensioenbelang aan die nie-lidgade moet betaal.
Die praktiese implikasie van egskeiding op afgetredenes met inagneming van bogenoemde algemene standpunt, verg egter verdere aandag, spesifiek om twee redes:
- ’n Praktiese een, naamlik dat daar ’n groter neiging was vir die huidige afgetrede generasie om gedurende die tydstip waar hulle in die eg verbind is, ’n huwelik in gemeenskap van goedere te sluit, hetsy deur keuse of omdat dit die algemene onbesproke reël was;
- ’n Wetgewende een, gegewe dat die definisie van “Pensioenbelang” in die Wet op Egskeiding, die volgende is:
“die voordele waarop ’n party as lid van ’n pensioenfonds ingevolge die reëls van daardie fonds geregtig sou wees, indien sy lidmaatskap tot die fonds op die datum van die egskeiding sou beëindig het weens sy bedanking uit die amp”.
Die praktiese implikasie vir afgetredenes is dat ’n Pensioenfonds nie deur die Hof beveel kan word om by egskeiding 50% van die ledegade se Pensioen aan ’n nie-lidgade te betaal, aangesien die voordeel reeds gemelde lidgade by aftrede toegeval het.
Voordat u verontwaardig word, dit beteken nie dat ’n nie-lidgade nie geregtig is op 50% van die ledepensioenvoordeel nie, maar bloot dat betaling daarvan nie deur die Hof gelas kan word nie, met die gevolg dat deeglike oorweging en beplanning moet geskied deur enige afgetredene by oorweging van egskeiding en sluit opsies in om ’n regverdige en billike verdeling van bates tussen die partye te verseker wat pensioenbelange kan insluit.
Let ook daarop dat soortgelyke beginsels van toepassing is wanneer gades buite gemeenskap van goedere met die aanwas getroud is, spesifiek gegewe dat ’n Pensioenbelang deel is van ’n gade se bates in die mate wat dit deel vorm van die aanwasberekeninge van die individuele boedels, met dien verstande dat die pensioenbelang nie spesifiek in die voorhuwelikse kontrak uitgesluit is nie. In hierdie gevalle is ’n deeglike benadering noodsaaklik, nie net met betrekking tot Pensioenbelang nie, maar ook in die bepaling van die waarde van enige bykomende Annuïteite wat afhanklik gehou kan word van hul klassifikasie en belangrikheid, na oorweging of die huwelik voor of na 1984 gesluit is.
In die situasie van Pensioenbelange wat reeds aan ’n gade toegeval het, is dit kortliks die moeite werd om daarop te let dat sou ’n gade wat buite gemeenskap van goedere getroud is met die aanwas voel dat sy/haar belang om te deel in die aanwas van die ander party se boedel by ontbinding van die huwelik ernstig benadeel is/mag word, is opsies beskikbaar in ’n poging om gemelde bekommernis aan te spreek.
Soos individue egter langer leef en betrokke raak by aktiewe en verskeie sosiale lewens na werk, word egskeiding op of na aftree-ouderdom meer algemeen. Gegewe die eienaardighede met betrekking tot Pensioenbelange en die beginsels wat annuïteite by egskeiding reguleer, is dit raadsaam om ’n prokureur te raadpleeg, nie net om ’n regverdige en praktiese verdeling van bates te verseker nie, maar ook om jou gemoedsrus te verseker na egskeiding en tot gryse ouderdom.