Hierdie maand is daar heelwat te doen in die tuin. Ons moet ook tyd maak om ons tuine te geniet, veral tydens die lang, warm aande. Dit is ’n goeie idee om, met die oog hierop, geurplante wat hierdie tyd van die jaar blom naby die huis te plant. Probeer om die inheemse clematis, ’n sterk groeier, brunsfelsia (Yesterday, Today and Tomorrow) en frangipani, te plant. Oorweeg dit om jou patio of leefarea buite te oordek vir skaduwee op warm somersdae en terselfdertyd beskutting teen reën te bied. Take soos grassny en onkruid uittrek, moet gereeld gedoen word. Onthou om in die baie warm maande die gras nie te kort te sny nie. In ons sanderige wêreld is die hernuwing van deklae ook baie belangrik. Sodra dae koeler word, kan begin word met die beplanning van winter- en lentevertonings.
Die blomtuin
Sny gereeld dooie blomme van jaarplante af en bemes tweeweekliks met miswater of ’n gebalanseerde organiese bemesting. Maak gereeld nat wanneer die reën wegbly. Verwyder die saadkoppe van agapante. Versamel dié saad wanneer dit ryp (swart) is. Saai in saadkisssies om nuwe plante te kweek wat na drie jaar sal blom. Sny lilium-saadkoppe af, maar los soveel moontlik van die blaarstingels sodat voedsel vir die volgende seisoen se blomme vervaardig kan word. Bind dahlias op indien nodig; bemes en dun knoppe uit vir groter blomme. Bolletjies wat aan die stingels van sekere watsonias vorm, kan verwyder en in saadhouers uitgeplant word.
Groente
Bemes saailinge van alle koolsoorte met miswater, KAN of soortgelyke stikstofryke kunsmis. Saai kropslaai tipies laatmiddag in klam grond – dit sal nie ontkiem indien dit te warm is nie.
Kleur
Na die bederf van al die watsonias in ons tuine, kan ons hierdie maand uitsien na die geharde, oranje vallende sterretjies (Crocosmia aurea).