Dit is met genoegdoening dat The Post die volgende aankondiging maak teenoor sy lojale lesers.
Na etlike ure se opweeg, inweeg en oorweeg,is daar besluit om met ingang 1 April die plaaslike The Post op die leser se beurs(ie) te registreer. Dít was nie ’n maklike mosie nie, en is met groot erns bejeën. Argumente daarvoor sowel as daarteen is deur die drie amateurs wat die koerant maandeliks met groot trots saamstel, in samewerking met bydraes uit die gemeenskap, beredeneer.
Nadat konsensus bereik is dat die koerant teen ʼn minimale bedraggie van R100 per kopie op die rak beskikbaar sal wees, is die tweede uitdaging aangespreek.Hoe sal hierdie geld verhaal word?“Maklik!”, kondig die enigste dapper Adam tussen die Eva’s aan. “Die hoedstelsel.” Langs elke bondel The Post sal daar ʼn swart ‘top hat’ geplaas word met ʼn bordjie ‘Big Brother is watching you’.Lesers neem hul koerant en deponeer presies R100 in die hoed (Adam kan ongelukkig nie by alle verspreidingspunte kleingeld uitdeel nie).En siedaar , so maklik soos brood en botter!
Maar daar was nog een laaste struikelblok wat die Posties moes aanspreek.Indien daar enige klagtes sou inkom wie sou dit hanteer? Looitjies is getrek en die gelukkige wenner was Laurinda.Haar enigste versoek is dat enige klagtes rakende die “registrasie op die leser se beurs” via die facebook-bladsy gerig word (https://www.facebook.com/ThePostGardenRoute/). Só maak ons sommer ook seker dat die blad die nodige “hits& likes” kry.
Groete uit die Bahamas – dis heerlik hier!
Laurinda Smit
PS Soos altyd bly ek positief en het solank ’n voorskot op my aandeel uit die beursie gevat. Maar soos almal sal weet, is ek ook baie mededeelsaam. So, R300 per eksemplaar in die hoed sal verseker dat Adam (Mike) en die ander Eva (Marianne) by my kan kom aansluit.