Wat is nou lekkerder as ’n vetgebraaide galjoen (Dichistius capensis) op die kole?
Galjoenvang kan uitdagend wees weens die feit dat hulle habitat gewoonlik vol harde klippe is wat sinkers vreet. Ons nasionale vis dra met trots ’n rekord van by die 7 kg en het menigte vissermanne al laat les opsê. Hulle kleur kan wissel van amper swart, koper-brons tot selfs silwer.
Die gedugte klein vegter hou van rooiaas, mossels, bloedwurms, tjokka en garnale. Die kleiner manne byt so skelm dat jy amper geen kans staan om raak te kap nie, terwyl daardie honger vetties jou eenvoudig plattrek soos ’n jong kraker.
Ons gebruik deesdae sirkelhoeke omdat die vis homself vang. So spaar jy jou die frustrasie om heeltyd mis te kap. Mustad se 1/0 tot 5/0 “Demon circle”-hoeke werk baie goed, asook die nuwe Trident Kobu-sirkelhoeke se 1/0 tot 3/0-hoeke. Wees maar gereed vir daai mosselkraker wat kom moeilikheid soek met jou ligte gerei, hulle is mos vêrlangs neefs.
Wit, werkende skuim is die beste plek vir galjoene, partykeer sommer baie vlak.
Stroppe wat goed werk, is vaste stroppe waar “Paternoster-knope” of “T-knope” gebruik kan word.
T-knope word gebruik om die hoeklyn weg te hou van die hooflyn af
Paternoster-knope maak ’n lus waaraan die sinkerlyn kom
Die Paternoster-knoop dien as aanknooppunt vir ’n dunner sinkerlyn wat makliker afbreek indien jy vashaak. Die hoek is dan reg op die hooflyn se punt met ’n gly-dobbertjie teenaan die hoek, sowat 300-500 mm onder die Paternoster-knoop. Bottelsinkers, ronde gly-sinkers en nylon-draadsinkers word gereeld gebruik tussen die klippe.
Met ’n galjoenstrop kan die sinker maklik afbreek.
Onthou die galjoenseisoen is slegs oop vanaf 28 Februarie tot 15 Oktober, met net twee visse bo 35 cm per hengelaar per dag. Lekker braai!
www.fishthesea.co.za – Galjoen-hengel; Die aas aan my hoek – Nicky Louwrens; Senko Skipper (T-knope)