Wat is die verskil tussen alledaagse stres en uitbranding? Wanneer is ons stresvlakke vir ons ’n goeie ding en wanneer steek dit die grense oor en voel ons oorweldig of dreig uitbranding? Dit is belangrik dat ons hierdie verskil ken, veral in werksituasies waar meer as die normale van ’n mens verwag word.
Stres is deel van ons alledaagse lewe. Stres kan nodig wees sodat ons ons beste kan lewer, sodat ons kan groei of ten minste kan verbeter. Gesonde vlakke van stres gee selfs energie. As stres kronies, skadelik en ongesond raak, flikker daar rooi ligte.
Ons raak oorweldig wanneer die stresvlakke so hoog raak dat ons dit nie meer suksesvol kan bestuur nie en ons dan “afskakel” en nie meer normaal kan funksioneer nie. Wanneer ons nie meer besluite kan neem of take logies kan aanpak nie, wanneer ’n mens voel of jy wil veg, vlug of vries, swem jy in uitbranding se waters. Vergelyk dit met ’n motor se enjin – dit kan ook net soveel werk verrig voordat dit gediens moet word, anders breek dit.
TEKENS VAN UITBRANDING KAN IN VIER KATEGORIEË VERDEEL WORD:
Verstandelike simptome: Dit is wanneer konsentrasie en besluitneming moeilik is en konstante, malende kommergedagtes oorheers.
Emosionele simptome: As die eise van die lewe oorweldigend voel en ’n mens ongelukkig, buierig en kort van humeur raak.
Fisiese simptome: Vinnige hartklop, borskaspyn, naarheid, diarree of hardlywigheid is tipiese simptome. Lae immuniteit en/of lae libido is ook tipies.
Gedragsimptome: Eet- en slaappatrone wat omvergegooi is, wanneer mense hulle isoleer, belangrike verantwoordelikhede verwaarloos of alkohol, sigarette of selfs dwelms gebruik om te ontspan.
Taal skep ons realiteit – ontdek dus die waarde van uitdrukking. Praat met jou kollegas, jou baas of ’n terapeut. Elke keer wat jy jou ervarings in taal uitdruk, verwerk jy jou omstandighede en kom jy nader aan oplossings. Ander oplossings is om te fokus op selfliefde. Gun jouself dieselfde deernis en omgee as wat jy aan ’n goeie vriend of vriendin sou uitdeel. Neem verlof – dit is net so belangrik vir jou werksgesondheid as wat slaap vir jou fisieke liggaam is. Bestee tyd in die natuur, want natuurelemente grond weer jou menswees. Raak stil, mediteer, gee jou brein kans om weer te programmeer. Hou stiltetyd, gesels met ’n geestelike mentor of ’n Pastorale Narratiewe Terapeut. Beoefen stokperdjies, kyk mooi na jou eet- en drinkgewoontes en bly fiks.
Kry maniere om jou stresreaksies te lees en te beheer. Ken jou uitbrandingsprofiel. Voel jy energiek? Of moeg en lusteloos of uitgeput en uitgebrand? Weet wanneer en hoeveel keer jy al hierdie grense getoets het. Leer om jou stres suksesvol te bestuur en wees só goed vir jouself.