Al is ’n mens nie altyd seker wanneer jy iets moet interpreteer as ’n kompliment of vriendelike vermaning, selfs dikwels as kritiek nie, die uiteinde is ’n boodskap word oorgedra. Soms moet jy seker eerder maar kies om iets jou eie te maak en die beste van woorde te maak, al sit dit nie lekker op die lyf nie. Wat ek wel weet, is dat wanneer dit kom by kinders is die reaksie altyd min of meer: Ai foei, is dit nou nie oulik, dierbaar of kostelik nie?
Onlangs ontvang ek foto’s van ’n ouma en oupa in ons kontrei met die woorde: Nie alleen geniet ons The Post nie, maar ons kinders kan ook nie uitgepraat raak oor die verskeidenheid artikels in die koerant nie. En ons kleinkinders geniet dit skynbaar net so! Natuurlik groei ’n mens se borskas kompleet soos ’n skouduif s’n. Is dit nie interessant watter verskil ’n “goedvoel-oomblik” maak in ons elkeen se lewens nie? Vergeet die feit dat die baba en tweejarige seun nie kan lees nie – ek is nie eers seker of hulle na die prentjies kyk nie. Dit gaan oor die beginsel dat ons almal van goedvoel-woorde en -bedoelings hou.
Met die jaar wat vinnig einde se kant toe begin staan en voordat spyt en jammerte inskop oor of ons nie beter kon gedoen het nie, kom ons deel meer “goedvoel-oomblikke” uit. Wil en moet ons noodwendig altyd ’n opinie, teregwysing of ons gedagtes oordra? Kan ons nie soms net ja en amen sê en vir daardie oomblik ’n verskil maak in ’n ander se lewe en hulle laat goed voel vir die oomblik nie?