Groeneweide staproete, digby George, maak dit vir die gemiddelde stapper moontlik om binne 500 meter nadat jy met die roete in die grotere Groenkop Staatsbos begin het, eufories goed te voel. Diѐ wonderkuur-resep is eenvoudig: Kombineer unieke bosgeure, bosgeluide en bomenslike woudvrede met mekaar en jou siel is voorwaar eensklaps ( en vir ‘n paar dae daarna) verkwik.
Ons groepie stappers besluit op diѐ vroeё Sondagoggend eenparig om een van die langer van die drie moontlike bosroetes aan te pak. Die drie roetes, 13 km ( rooi), 11 km ( blou) en 9 km ( groen) beweeg almal saam in ‘n kloksgewys- sirkel roete met korter afdraai moontlikhede. Die rooi roete, saam met die groen en blou, begin by die einde van die sportveld naby die boomlyn by die Nelson Mandela Saasveld kampus. Hier word ons deur ‘n erewag van lieflike skouerhoogte pienk heide wat in die oggendwindjie wieg, ingewag . Jy verdwyn byna onmiddellik hiervandaan vir ‘n kilometer in ‘n deursigtige blare tonnel wat geleidelik na die Kaaimansrivier se bruin water, ryk aan tanniene van die bos se plantmateriaal, afslinger.
Vanaf die rivier klim die bospaadjie geleidelik opwaarts tot by ‘n kontoerpaadjie en tot by die massiewe Groot Geelhoutboom. Vanuit diep ingesonke dreineringslyne groei en reik die bos se ou grotes hier op die Perdekraalpad na hulle eie rekord hoogtes. Hier sien jy talle onwerklike lang Outeniekwa Geelhoute, bekend as die langste inheemse boomsoort in Suid Afrika. Diѐ Kalanders kan tot 40 meter hoog en tot 1000 jaar oud word! Die liggroen ligene wat uitgerafel om die boonste takke gedrappeer is,” lyk nes ‘n ou man se baard”, laat een van my mede stappers val. Hoe verder ons klompie gestap het, hoe stiller het dit dan ook tussen ons geword – diep onder die indruk dat jy hier tussen ware ikone beweeg. Die Bos het nou met òns begin praat . Swart Ysterhoute, vroeёr jare gewild as spoorweg dwarsleêrs, vorm saam met die Kalanders ( afgelei van Outeniekwalander) en Witstinkhout bome, die koepel van hierdie grootse natuur katedraal. Bobbejaantou of Bosdruif rek en strek hemelwaarts om by die hoё bome uit te kom.
Ons verkyk ons aan die verskillende kleure en vorms fungi wat oral op en aan gevalle boomstompe saam met sagte mossoorte, klein boskamees vorm. Deurentyd weet en hoor jy verskillende bosvoёls wat wegvlieg. Die gekrys van die flambojante Knysnaloerie het ons ‘n paar keer laat skrik, want fyntrap word amper gewoonte in die Tolkin-agtige wonderwêreld waarin jy jou vir die oggend bevind.
Jy kruis deurentyd klein dun stroompies op die roete met rolname soos Hardepeerrivier waar groot bruin rivierklippe in die gefilterde oggendlig baai. Terwyl ons vir die soveelste keer swig en op die fluweelgroen mosmat by een van die blink oases uitstrek, skarrel-trippel ‘n familie bosvarkies, stert in die lug by ons verby. Vroeёr het ‘n skaam bosbokkie haar byna doodgeskrik toe ons groepie, soos die houtkappers van ouds, skielik op haar afgekom het. Die Bos se eie inwoners begelei mens behoorlik die hele roete lank. Die rou gekrys van ‘n manjifieke Knysnaloerie stuit jou summier in jou spore – net betyds om die pronker te sien wegskarrel verder die ruigtes in. Jy hoor veraf die ritmiese getjirp van die ruigtesanger waar die inheemse bos hom kan versteek. Die kwasi voёlkenner onder ons identifiseer die meeste van die geveerdes as tipiese “Little Brown Jobs” !!! Inderdaad ‘n mekka vir voёl liefhebbers.
Te gou, na omtrent 6 ure van stap, luier langs stroompies en bosindrukke inneem, is ons terug by die beginpunt. Ons stap deur dieselfde blare tonnel en word stilweg gesalueer deur dieselfde pienk soldate van vroegoggend. Dís Groeneweide, ‘n wonder-bos-wêreld slegs 11 kilometer van George af waar jou siel eensklaps verkwik word.
Nuttige wenke:
Moeilikheidsgraad van roete – Gemiddeld tot maklik
Roete merkers: Drie voetsool kleure- groen ( 9 km) blou ( 11 km) en rooi ( 13 km)
Permitte en koste: Toegang gratis – Teken net in by die ingang van Nelson Mandela Saasveld Kampus.
Roetekaart en aanduidings: ‘n Roetekaart is beskikbaar by die begin van die staproete.
Waterpunte: Die water in die stroompies is veilig om te drink.
Neem saam: Kamera, verkyker en hope tyd – die bos vra jou volle aandag.