Dis ‘n ongelooflike veldoefening van ‘kyk- en- bekyk- te -word’. Nuuskierige veldbewoners en opgewonde gedempte homo sapiens sapiens wat vroeg oggend, met eerste lig na mekaar tuur, is voorwaar ‘n avontuur soos min en ‘n besliste moѐt doen vir enige besoeker aan Oudtshoorn se Klein Karoo.
Die mengsel van afwagting in die donker, voёls wat hier en daar begin tjirp en voertuie wat doer in die donkerte met die gruispad afkom, lig die opgewonde element nog ‘n fraksie hoёr. Want om vroeg, regtig vroeg, ver voor sonopkoms op te staan, beteken jy hou van donkerte, sonsopkoms, stilte EN die veld. Die hoofrede vir diѐ vroegoggend avontuurtjie is om meerkatte, een van die sognaamde Vyf Skaam nagdiere, met eerste oggendlig in die droё Klein Karooveld te salueer.
Dit is vroeg, en ons is met warm baadjies, musse en entoesiasme gepanser teen die bytende Karoo herfsluggie. Die groep van 30 nuuskieriges praat saggies en neem foto’s van die dag wat breek agter die Swartberge. Met koffie in die hand verwonder ons ons aan die onwerklike kleure waarmee die oostelike hemelruim se streepwolke beskilder word. Venus, die oggend planeet, wink vir oulaas en verdwyn êrens in die uitspansel doer bo.
JD Glinister, ons gids van die oggend, ken sy storie. Die groepie is elkeen reeds die vorige dag ingelig waar en presies hoe laat ons op die ontmoetingsterrein vir die meerkatekspedisie ontmoet. JD en sy span doen ook die vorige dag ‘n recce om presies seker te wees van die doen en late van die meerkatfamilies wat die volgende oggend onder oё gaan wees. Hierdie oefening in meerkat -kyk, wat elke oggend, winter en somer, (behalwe Kersdag) en afhangende van die weer, vanaf September 2009 gedoen word, is ‘n gewilde uitstappie vir besoekers aan die Klein Karoo.
Ver weg roep ‘n patryspaartjie na mekaar en die ringnek duiwe koer in ‘n nabye Soetdoring soos net hulle dit op ‘n Sondagoggend kan doen.
Die meerkat, sò vertel JD, terwyl almal reg skommel in hul gemaklike liggewig kampstoeltjies, se gedrag herinner beslis aan menslike gedragspatrone. Ons sit so 5 tot 7 meter vanaf ‘n klompie meerkat gate en almal se aandag is vasgenael op die terloopse openinge met die rondom droё grys Karoo veld. Hiѐr bly die stoksterte meerkatte in families en beweeg hulle as groep saam uit om te gaan kos soek. Gewoonlik bly die kordate diertjies in ‘n radius van 2 tot 3 km met ondergrondse sisteme as wonings. Ons meerkatfamilie het dit egter gelukkig getref deur naby aan ‘n lusernland te bly – hope kos met volop insekte en net een uitgebreide ondergrondse woning!
Skielik steek daar ‘n nuuskierige, wollerige, goue gevreetjie sy gesig by die middelste gat uit. Hy of sy loer oor die linkerskouer, bekyk ons groepie nuuskierig en glip terug. Hiermee is die magiese afwagting verbreek – ‘n stuk of 6 volwasse meerkatte peul nou ook uit die gat uit en ons sien tussenin ook twee tieners wat laasjaar op 24 November gebore is – volgens JD erken jy hulle aan hulle gryser haredos.
Fier en kordaat bekyk hulle ons groepie sittende toeskouers, en ons kyk onwrikbaar terug.
Hul baai hul magies in die direkte oggendsonnetjie en verwarm sommer hul hele lyfie. Ons hoor dat diѐ betrokke meerkat familie 8 lede het en gelei word deur die einste dominante wyfie meerkat en haar maat. Sy kan tot 3 keer per jaar dragtig raak, beginnende in Augustus, met 75 dae poses tussenin. Die oorlewingsstatistieke van ‘n klein pienk meerkatjie is slegs 45 %, en muise en slange is lief vir die pasgebore kleingoed wat 5-6 maande neem om volwasse te word. Die familie is met hul eie unieke lyfreuk aan mekaar verbind en wanneer ‘n mannetjie uit die nes, of figuurlik uit die gat geskop word, moet hy behoorlik nuwe strategieё bedink om weer elders ‘n nuwe familie te begin.
Die proses van regop uit die gat, rondloer en bymekaar kom na boontoe was in ‘n rekordtydjie verby. Na ‘n onsigbare teken deur Mamma meerkat draf die hele spulletjie op ‘n goue streep, stert in die lug, na die nabye lusernland op ‘n ekspedisie van vroeё insekte ontbyt. Anders as die ander vier nagdiere, die aardvark, aardwolf, bak-oor jakkals en die ystervark, is die meerkat die enigste van die Skaam Vyf , wat ook in die dag doenig is.
Ons groepie laat spaander later op ‘n streep, nes die meerkatte van vroeёr die oggend, in die goue oggendlig terug via die R62, Oudshoorn toe. Rondom ons is daar ‘n gelatenheid van “kyk- en -bekyk- te -word” in die goddelike Karoo oggendstond. Vir meer inligting kontak info@fiveshymeerkats.co.za