23 C
Mossel Bay
1st December 2023
Nature & Nurture

Groot Brakrivier Bewarea en die Vierde Dimensie

Hoe bring jy die kloutjie by die oortjie – Bewarea en die vierde dimensie? Maklik, ons almal ken mos die konsep van drie dimensies: punt, vlak en ruimte. En tyd word algemeen aanvaar as die vierde dimensie, ofskoon sommige filosowe vir jou ‘n ander ‘spin op die bal’ sal sit. Lees maar wat sê Wikipedia van tyd, of nog beter, Stephen Hawking se treffer A Brief History of Time wat in 1988 die lig gesien het en waarvan meer as 10 miljoen eksemplare verkoop is.
Hoe dit ookal sy, tyd staan nie stil nie en wat verby is, is verby. So met hierdie inleiding wil ek by die punt kom dat die Bewarea die afgelope jaar nie gras onder sy voete laat groei het nie maar die tyd uitgekoop het en ‘n besige jaar agter die rug het.
Een van die hoogtepunte was ‘n finansiële bydrae van die ‘Garden Route Casino Community Trust’ wat dit moontlik gemaak het om ‘n aantal beweging-sensitiewe kameras aan te koop met die doel om inligting te versamel oor die fauna wat ‘n mens selde te sien kry in ons kontrei. ‘n Voorbeeld is die blou duiker (Philantomba monticola) wat so ‘n paar maande gelede in die Groot Brakrivier omgewing helder oordag in ‘n tuin gesien is. Onlangs het die kameras ook pragfoto’s van een of meer rooikatte (Caracal caracal) vasgevang. Alle inligting (foto’s, plek, datum, tyd, ens.) van sulke voorvalle word aan Cape Nature deurgegee. en dit word hopelik opgeneem in ‘n Suid Afrikaanse biodiversiteit databasis soos die ‘South African Biodiversity Information Facility’ (SABIF) van die ‘South African National Biodiversity Institute’ (https:///www.sanbi.org). Lesers word aangemoedig om enige sulke inligting aan bestuurslede van die Bewarea oor te dra sodat die betrokke instansies ‘n beeld kan vorm van ons omgewing se biodiversiteit en dat ons sodoende ‘n bydrae kan lewer tot die bewaring van ons omgewing.
Ons Departement van Landbou, Bosbou en Visserye (DAFF) het spesifieke voorskrifte oor die uithaal van oesters vir kommersiële asook privaatgebruik. Lisensies word uitgereik aan gebruikers en die kommersiële lisensiehouers moet duikpakke (wet suits) dra en koevoete gebruik wat minstens 1m lank is en die punt of platkant nie meer as 40mm breed is nie. Daar is geen beperking op die grootte of aantal oesters wat per dag ge-oes mag word nie. Vir privaatgebruik is die kwota 25 oesters per dag met geen beperking op grootte nie. Oesters mag slegs in die inter-getygebied uitgehaal word sodat die oesterbeddens in die sub-getygebied kan vermeerder en groei.
Die maandelikse Bewarea stalletjie by die Groot Brak mark word goed ondersteun en tydens die November mark, het die ‘Garden Route Birds of Prey Rehab Centre’ op uitnodiging van die Bewarea hulle stalletjie langs die Bewarea stalletjie kom oprig. Dit het ‘n lewendige belangstelling uitgelok, veral by die jonger geslag. Die oogmerk van die sentrum is om ‘n bewustheid te skep oor die rol van roofvoëls in die natuur asook om gewonde voëls te red, te rehabiliteer en weer vry te laat indien moontlik. Hulle kan gevind word langs die ‘George Wildlife Park’ en is daagliks oop tussen 09:00 en 16:00.
Wat lê voor vir 2019? Van die aktiwiteite wat beplan word, is die vestiging van ‘n boomstaproete, hetsy as ‘n afsonderlike staproete of as deel van ‘n bestaande roete. Groot Brakrivier het ‘n groot verskeidenheid interessante bome – dink maar aan die reusagtige peperboom naby die skoenfabriek. Meer hieroor op ‘n latere geleentheid.
Die gereelde nuusbrief wat aan lede per e-pos versprei word, asook die ‘Facebook’ blad is kragtige kommunikasiemiddels en deurgaans word positiewe kommentaar ontvang.
Aan almal ‘n geseënde Kersgety en ‘n heerlike vakansie vir ons vakansiegangers.

Related posts

GO NATIVE!

Sally Adam

ON THE ROAD AGAIN

Mariëlle Renssen

Smoke on the Water

Matthew Thorpe

Botanical Bliss

Laurinda Smit

PARADYS (KLOOF) THROUGH THE EYES OF DYLAN LEWIS

Mariëlle Renssen

Upcycle your School Uniform

Mariaan Botha