14 C
Mossel Bay
28th May 2023
Community & LivingNews

GROOTBROER LOER!

Die feesseisoen is op ons! Dis tyd om na ’n baie senutergende jaar ’n slag net lekker te ontspan. Bier in die hand en voete op die sand?! Miskien ’n bietjie “pub crawling”, ’n gesellige uiteet of selfs disko vir die jonges?

Die slegte nuus vir die partytjiehouers, of goeie nuus vir die sedebewakers, is dat Grootbroer vir jou loer. Hy wag vir jou. Spesiaal vir jou! Die outjie wat sy foutjie met die voggies te laat gaan agterkom.

Om mee te begin, word daar geen alkohol toegelaat op die strand of enige publieke area nie. Die Mosselbaai- en Grootbrak-strande en -parke word gepatrolleer om oortreders vas te vat. Dit bring ook die positiewe uitkoms van minder oproerige gedrag, lawaai en aangeklamdes wat die see soos Chad le Clos aandurf. Grootbroer loer van agter die sandduin en met verkykers vanaf ’n branderplank. Hy soek jou.

Goed so. Dan is dit die kroeg of restaurant. Geen probleem nie, jy kan maar daar gaan drink en soveel as wat die eienaar se geduld gaan toelaat. Maar die probleem is jy moet huis toe, en Grootbroer loer. En die normale foutjie is dat na die eerste glas wyn raak die tweede glas onverklaarbaar lekkerder en die glase daarna absoluut verruklik heerlik.

Oplossing een is die aanbevole oplossing: Kuier by die huis. Oplossing twee: Kry vir jou ’n sedige nugter maatjie of reël ’n diens om jou te vervoer. Oplossing drie: Raak so besope dat jy waar jy ook al kuier jy jou bewussyn verloor sodat jou aand se geskiedenis in “The Hangover 4” weerspieël word. Maar wat jy ook al doen, moenie eers drink en dan bestuur nie. Grootbroer loer, en hy gaan jou kry! Hy sit agter die kroegtoonbank met ’n donkerbril. Hy inspekteer die plantegroei en bossies langs die pad. Hy sweef soos ’n arend oor ons area en soek na sy prooi.

Jy sal afgetrek word, jy sal in ’n pypie moet blaas, jy sal geneem word om jou bloed te trek, jy sal ’n tyd agter tralies bestee, jy sal in die hof verskyn en jy sal swaar gestraf word. En jy sal ’n kriminele rekord kry en jou eie naam spreekwoordelik met ’n plank slaan.

Benewens wat moontlik gaan gebeur, kan die volgende ook gebeur. Jou visa en oorsese reise mag afgekeur word weens jou rekord. En jy mag jou bestuurderslisensie verloor of dit sal opgeskort word. En jou maat mag besluit dat hulle nie saam met mense met kriminele rekords wil slaap nie.

Vir die rekord mag die persentasie alkohol in jou bloed nie 0,05 gram per 100 ml bloed oorskry nie en jou asem nie meer as 0,24 mg in 1 000 ml asem bevat nie.

Dit is min. Baie min. Dit is een klein drankie per uur as jy ten minste 80 kg weeg en eet tussenin. En vir dié van ons wat bevoorreg is om 160 kg te weeg, beteken dit nie jy kan dubbeld soveel drink nie!

So, noudat jy die opsies voor jy het, is dit baie maklik om te besluit. Grootbroer loer!

Related posts

CAN YOU BE FIRED FOR A WHATSAPP MESSAGE?

Herman Swanepoel

GEÏMPLISEERDE WAARBORG IN TERME VAN DIE VERBRUIKERSBESKERMINGSWET

Ruben Maritz

Jou Tuin is jou Toevlug

Lydie Terblanche

KABELJOUVANG OP SIRKELHOEKE IN DIE TUINROETE

Wouter Van Zyl

SECOND GB WALK IN GREAT BRAK

Annlerie van Rooyen

The three ‘Rs’ of the Consumer Protection Act

Matthew Thorpe