22.4 C
Mossel Bay
28th November 2023
BusinessCommunity & LivingNews

HENSOP!

Die wêreld se lande word na aanleiding van opnames gekategoriseer volgens ’n veiligheidsindeks van 1 tot 4. As jy in ’n Kategorie 1-land woon, kan jy salig jou sleutels weggooi en met oop vensters slaap. Die land se polisie en weermag is gewapen met veerpyltjies om “darts” te speel om die tyd te verwyl, en die enigste klagte vir die week is dat Tant Minnie dwars oor die straat ry met haar mobiele rystoel en hond op die skoot.

As jy in ’n Kategorie 4-land woon, stuur jy ’n huursoldaat om jou McDonalds te gaan afhaal. Suid-Afrika se veiligheidsindeks is 2.4. Jy kan self jou McDonalds gaan haal, maar jy moet ernstig op die uitkyk wees.  

Daarteenoor is die VSA en Nieu-Seeland gekategoriseer as Faktor 1-lande. Na alle waarskynlikheid kan jy vanaand 12 uur self jou McDonalds veilig gaan haal en op die rusbank verslind terwyl jy op TV kyk hoe Suid-Afrika aan die loot en plunder is.

DIE OMSTREDE VOORGESTELDE WAPENWET

In die VSA word daar hard gedebateer oor die Second Amendment van hul konstitusie – die sogenaamde “right to bear arms”. Jy kan meestal steeds jou Dirty Harry 44 Smith & Wesson “special” gou by die Wallmart gaan koop en vir enige bedreiging bloot sê: “Make my day!”.

In Suid Afrika sal die nuwe voorgestelde gewysigde wet op vuurwapenbeheer 2021, indien goedgekeur, binnekort in werking tree. Die vernaamste aspekte van die wet is dat verdere beperkings geplaas sal word op wapenversamelaars, die herlaai van ammunisie, die hoeveelhede wapens en ammunisie wat besit mag word asook verkorte lisensieperiodes.

Die mees omstrede aspek is die feit dat ’n geldige rede verskaf moet word om ’n vuurwapenlisensie te bekom en dat geen vuurwapenlisensies uitgereik mag word vir doeleindes van selfverdediging as rede nie. Dit sal in die praktyk beteken dat die gemiddelde Suid-Afrikaanse burger wat nie ’n jagter of versamelaar is nie, nie ’n wapen sal kan bekom nie.

Ernstige vrae ontstaan oor die effek van die wetgewing weens die groot mate van geweld en beskadiging van eiendom wat soms oor ons mooi land spoel, teenoor die voorgenome  beperking op die publiek om hulself te verdedig. Die verdere vraag is ook wat die hoeveelheid van wettige wapens is wat met roof en aanvalle geassosieer word.

Indien die beperkings ingevolge die omstrede wetgewing ingestel word met die doel om misdaad in Suid Afrika te beperk, glo ek dat daar ’n baie sterk saak uit te maak is dat misdaad inteendeel sal vererger deur sagte teikens te skep. Die voorgenome ondeurdagte wetgewing sal waarskynlik met heelwat hofaansoeke teen die implementering daarvan gevolg word.

OM JOU LISENSIE TE HERNU
Maak vroegtydig ’n afspraak by die DFO (Dedicated Firearm Officer) by die SAPS-stasie wat jou bedien, verkieslik 90 dae voordat ’n lisensie verval. Vir nuwe aansoeke moet daar ook afsprake gemaak word. Neem in ag dat party DFO’s tot twee maande vooruit volbespreek is. Maak 100% seker dat al die regte SAPS-dokumente ingevul is en skryf ’n volledige motivering oor die redes waarvoor die vuurwapen gebruik sal word. Heg ook stawende dokumente aan soos berigte van misdaad in u omgewing of heg jagfoto’s en ’n uitnodigingsbrief van ’n boer aan. Die volgende afskrifte moet ook aan die aansoek geheg word: ID, bewys van adres, bevoegdheidsertifikaat van die SAPS, opleidingsertifikaat, alle vuurwapenlisensies op u naam, kluisfoto’s en twee paspoortgrootte kleurfoto’s. Neem ook die regte bedrag in kontant saam.  

“When you outlaw guns, only outlaws will have guns”

Related posts

CHANGE YOUR “ENVIRONMENTALITY”

Scott Thomson

5 ESSENTIAL TRAITS OF LASTING RELATIONSHIPS

Preston Ni

THE PROOF IS IN THE PUDDING!

Annlerie van Rooyen

BIOMIMICRY – COPYING THE HEART OF NATURE

Sylvia Ferguson

IT’S SIMPLE – IF YOU ADVERTISE, YOU MAKE SALES

Business Tech: Partner

THE PERIL OF THE FERAL

Scott Thomson