Volgens my kan jy vakansiegangers in twee kategorië verdeel: seemense en bosmense. Daar is diegene wat by die see móét uitkom om te voel dat hul met vakansie was. Ander het weer nodig om ’n grondpad te ry en die stilte te beleef, om weer mens te voel.
Vir die seemense is ’n sonskyndag op die strand, waar hul in die water kan baljaar, kan lees, selfs ’n middagslapie kan vat, ’n verkwikkende ervaring.
Die bekoring van die weer wat opkom met die belofte van reën, die silhoeët van ’n reuseboom teen ’n oranje sonsondergang, tap die bosmens se vreugdestenk propvol.
Wanneer die gejaagde lewe strenger eise aan ons stel en ons meer van onsself moet gee, is dit noodsaaklik om doelbewus ons vreugdestenks aan te vul. ’n Mens kan tog nie iets bied vanuit ’n leë opgaarplek nie.
Wanneer ons dinge doen wat ons gelukkig maak, is ons besig om ’n voorraad van geduld, deernis en empatie op te bou, waarvan ons kan uitdeel soos die situasies van ons verg. Iets eenvoudig soos ’n kuiertjie met goeie vriende, ’n uitstappie na ’n kwekery of ’n boekwinkel of vrywilligerswerk by jou gunsteling-gemeenskapsprojek, kan jou vreugdestenk aanvul vir dorre tye wanneer ons dit mag nodig kry.
Ek wil jou aanmoedig om doelbewus méér van die dinge te doen wat vir jou vreugde verskaf. ’n Vreugdestenk wat konstant aangevul word, is jou buffer teen die uitdagings van die lewe, maar dit maak jou ook bruikbaar om ander te help wat jou nodig mag hê.