The Post

VERLEDE EN TOEKOMS

Ons het almal ’n verlede en The Post is geen uitsondering nie.

Marji Morkel, inwoner van Groot-Brakrivier, het in Maart 2006 die koerant begin wat bekend gestaan het as Groot Brak Post. Hierdie uitgawes het bestaan uit 12 bladsye in swart en wit. In Maart 2009, tydens die derde verjaarsdag, is die naam verander na Great Brak Post met enkele dele in kleur. In Maart 2015 is daar vir die eerste keer ’n volkleurvoorblad en -agterblad gedruk. Marji het verhuis na die Weskus en daarna het Anton Dellemijn, Denise Lloyd en Mandi Botha vir vier maande die koerant uitgebring en 3 000 kopieë versprei alvorens dit ’n sluimerfase ingegaan het.

Gedurende April 2016 het Laurinda Smit en Mike Ehrman weer die koerant opgetel en afgestof om uitgawes van 20 bladsye uit te bring waarvan 12 bladsye in volkleur en 8 in swart en wit was. Marianne Alberts het later aangesluit as deel van die span.

Met ingang van 1 Oktober 2018 is daar strategies besluit om die koerant se naam te verander na The Post. Volkleur-uitgawes van 20 bladsye is gedruk. Mike het in 2020 na die buiteland verhuis en Marianne het ’n nuwe uitdaging aanvaar in samewerking met ’n  Duitse maatskappy. The Post-span het hergroepeer met Annlerie van Rooyen wat aangesluit het in Maart 2020 en verantwoordelik is vir die artikels en Lindie Metz wat die ontwerp vanaf Junie 2020 hanteer. Die verspreidingsarea het vergroot vanaf George/Wildernis tot in Mosselbaai. Later is die oplaag verhoog na 5 000 kopieë met 155 maandelikse verspreidingspunte.

The Post se advertensiekoste is uiters bekostigbaar en die feit dat dit gratis deur die publiek opgeraap kan word, is ’n wonderlike bonus. Adverteerders weet dat die publiek die opbouende, positiewe, insiggewende artikels lees van hoek tot kant, waarna dit ’n prykstuk word op koffietafels vir vriende en familie om te geniet tydens besoeke en vakansies.

Die feit dat The Post, ten spyte van vele publikasies wat post-COVID nie meer verskyn nie, steeds bestaan, is ’n daadwerklike bewys van hoe die publiek en adverteerders dit geniet en steeds ondersteun na 18 jaar.  Vir The Post se span is dit belangrik om met integriteit, goed beplande artikel-inhoud en die keurige kies van visuele stimulasie nog lank die gemeenskap en sy adverteerders se belangstelling te prikkel en die koerant die lig te laat sien.  Wat die toekoms betref, sal daar meer gefokus word op die webblad en Facebook-ontwikkeling.

FEBRUARY EDITORIAL

So met die een voet nog op die strand en die ander in die realiteit van ’n werkskedule wat roep om aandag is ek bewus 2024 is hier, alhoewel ek reeds verlede jaar vir my ’n “old school”-dagboek aangeskaf het. Ek hou van voel en vat, die klank van potlood op papier, die letters wat inmekaar vloei en woorde word, met asemhalingsposes tussen sinne en paragrawe.

’n Normale loop van mense, motors en moleste word weer deel van ons roetine. Ek is bewus daarvan dat wanneer ek mense seënwense toewens in die nuwe jaar ek vir hulle vra: “Wat gaan jy anders doen vir jouself in die jaar?” Natuurlik nie ’n vraag wat verwag word of byval vind by almal nie, want ons word met die self gekonfronteer. Vir my gaan dit nie soseer oor die ander persoon nie, maar eerder ’n herbevestiging aan myself dat ek deurlopend bewus moet wees en raak van hoe om patrone, rituele en gewoontereg te verander en te vernuwe.

By nadere ondersoek beteken bewus die volgende: wetend, bedoel, denkend, beseffend, aangetoon, opsetlik. Wanneer ek so na die verduideliking kyk, neem ek kennis van die feit dat dit gepaard sal moet gaan met aksies, aandag en daadwerklike wil. Die volgende stap is om seker te maak daar is ’n plan, ’n strewe en lus, selfs al laat jou durf jou in die steek. Kortliks gaan dit beteken ek sal moet insit, myself moet uitsit, bewus moet bly van wanneer ek hunker en neig na dit wat moeiteloos, maklik en veilig was en is.

Die teendeel is ook waar. Daar is ’n tikkie opgewondenheid in elke nuwe dag  om bewustelik met die dag, die mense en elke gebeurlikheid om te gaan, die heel beste nuwe in myself te vind en dit bewustelik te beleef en uit te leef.

Gaan jy kies om met groter bewustheid te leef in 2024?

Contact us

    Follow us

    Annlerie van Rooyen


    Boeke was van kleins af deel van my leefwêreld en ek was gelukkig genoeg om my liefde vir boeke en lees as beroep by ’n uitgewery voort te sit op voltydse en later vryskutbasis. In 2020 het ek deel van The Post se span geraak. Om iets uit niks te skep, is ’n proses waarvan al die elemente amper soos ’n wonderwerk bymekaarkom, altyd met ’n goue draad wat daardeur loop. Die positiewe, opbouende en lekkerlees artikels vir die gemeenskap en hul waardering daarvoor bly inspirerend.

     

     

    This will close in 0 seconds

    Laurinda Smit


    Ek is sedert 2016 deel van The Post. Soos met enige besigheid leer jy vinnig dat van koffie maak tot aflewerings deel is van die taak. Die interaksie met adverteerders, beding rondom pryse, en die pa staan vir foute wat insluip, word later ’n dans waarvan die musiek enige oomblik kan verander.

    Die verrassende reaksie van die publiek, komplimente en die dankie wat oor jou pad kom sodra The Post op die rakke verskyn, maak die uitvoer van die dagtaak beslis die moeite werd.

    This will close in 0 seconds

    Lindie Metz


    Lindie has been working in the publishing industry for over 20 years, both as designer and production consultant.  Her expertise lies largely in the non-fiction world – she has worked on gardening, cooking, parenting, and craft books and even jumped in as photographer on a few occasions.

    Her career path took a very different turn when she studied and ultimately qualified as a homeopath. It speaks to her love of people, nutrition and fitness and she derives great joy in helping her patients along their journey to wellness.

    When she’s not designing or in practice, you’ll find her in the kitchen cooking something delicious or outdoors, enjoying time in nature.

    This will close in 0 seconds