Gepraat van duur speelgoed hoe ouer ons raak, is hier nou waarlik ’n speelding wat die manne laat gons. Hommeltuie raak soos alle tegnologie al beter en sterker. Lewendige harders, makriele, heel seekatte (kyk foto tydens ’n vlug), heel tjokkas, bonitos, krappe en selfs kunsaas kan nou op daai agterste bankies neergesit word met dodelike akkuraatheid. Dis mos waar die groot menere wei. Selfs kranige hengelaars met “vêrgooi-papiere” loer met verlangende oë waneer hulle sien hoe maklik jy daai mooi groot asie daar op 300 m insit. Jou kans op groot vis is eenvoudig net beter!
Die uitstekende model waarmee ons hengel, is ’n Cuta-Copter EX2 met sterker motortjies en 6-sel-batterye. Ons vlieg gemaklik ’n 3 kg-aas in wind van 35 km/h. Die grootste risiko is natuurlik dat die tuigie in die see in duik. Die feit dat dit byna waterdig is en wel in water kan land en opstyg, help geweldig baie, alhoewel geen elektroniese toestel soutwater geniet nie.
Dié hommeltuig het ’n outomatiese aas-vrylaat-meganisme wat met die druk van ’n knoppie op die afstandbeheertoestel die aas laat val.
Nog ’n groot voordeel van dié tipe hengel is dat jy ’n veel dikker en langer voorslag kan gebruik. Dit laat jou toe om groter vis te teiken en te land, veral op skurwe klippe. Vergeleke met gewone hengel, breek minder vis jou af, dus swem minder groot vis met hoek, lyn en sinker rond.
Hommeltuig-hengel gaan natuurlik gepaard met groot verantwoordelikheid, maar dit is veronderstel om reeds deel van ons hengelaars se passie te wees, net soos alle fasette van hengel. Ons moet ons spesies en veral ons groot broeivis bewaar. “Vang-en-vrylaat” is altyd die beste opsie vir volhoubaarheid.
Onthou, slegs mense se swak keuses verniel die natuur, nie instrumente nie! Hommeltuie is maar net een faset van hengel. Net so is bote, aasbote, ballon-hengel, vlieër-hengel, kuns-aashengel, vlieg-hengel, nette, langlyne en spiesgewere om maar ’n paar te noem.
Vir meer inligting oor ’n hengel-hommeltuig kontak jou plaaslike hengelwinkel. Wees egter versigtig, want as daai gogga byt, los hy jou nie!
Harten-Hengel Outdoor Facebook, Kleinbrak (Cuta-Copter Agent); https://tridentmarine.com.au/blog/can-use-drone-fishing; ultimatedronefishing.com