In “In praise of the ordinary child”, ’n artikel wat in 2015 in Time verskyn het, skryf Jeffrey Kluger: “It is time to rethink what it means to be exceptional – and whether being No. 1 is worth pursuing at all.”
Jeffrey Kluger skryf dat 99% van volwassenes net gewone, gemiddelde mense is, maar hulle maak hulle kinders groot asof die kinders “extraordinary” is … asof hul kind die 1% sal wees wat uitsonderlik sal wees. Kinders aanvaar hierdie idee, maar met ekstra klasse en privaat lesse verkoop ouers eintlik die leuen dat die ekstra aktiwiteite sukses sal verseker. Wanneer die kind dan nie die top 10 of die eerste span haal nie, voel die kind (en die ouer) soos mislukkings. As die ouer op skool presteer het, moet die kind ook presteer. As die ouer nie presteer het op skool nie, moet die kind daarvoor opmaak.
Genoeg! Daar moet ’n plek tussenin wees waar die kind net kan wees en doen waarvoor hy of sy lief is en waar die ouers wat kinders druk om uitsonderlik te wees, sal aanvaar dat hul kind net gewoon gemiddeld is … soos hulself. Jy kan jou kind inskryf in soveel klasse/lesse as wat jy kan bekostig, maar as jou kind dit doen omdat jy dit kan bekostig in plaas daarvan om lief te wees daarvoor, gaan hy of sy dit net tot op ’n sekere punt doen.
In die boek The Conscious Parent skryf dr. Shefali dat ouers die manier hoe hulle hul kind sien, moet verander. Jou kind is reeds waardig, volmaak en heel soos hy of sy daar voor jou staan. Ons as ouers maak ons kinders groot vir die toekoms ten koste van “konneksie”. Ons dreig, baklei en “fix” kinders met ekstra klasse/lesse en besige skedules sodat hulle “ten volle kan ontwikkel” en eendag suksesvol kan wees. Vir ons beteken sukses goeie punte, universiteitstoelating, graad en goeie werk kry wat sekuriteit sal gee … en dan eers sal jou kind gelukkig wees.
Ouers van tieners se grootste vrees is dat hul tiener nie suksesvol gaan wees na skool nie. Tipiese tienergedrag – ’n deurmekaar kamer, heeltyd op hul selfone lê en nie omgee oor skoolwerk nie – verhoog die ouers se vrees en dan oefen hulle nog meer beheer en straf uit. En die kinders betaal die prys hiervoor! Die kinders (veral dié wat akademies goed presteer) word gedwing in studierigtings waar hulle eendag goeie geld kan verdien in plaas daarvan om dít te gaan doen waarvoor hulle lief is. Dit is moontlik om ’n sielsongelukkige miljoenêr groot te maak, net soos dit moontlik is om ’n dolgelukkige sosiale werker groot te maak. “Your children are not a masterpiece that you create. They are their own masterpiece creating themselves, and you have been given the privilege of watching them be the artist.” J. Warren Welch