Vanaf 2010 word daar jaarliks ‘n sokkertoernooi vir die kinders in die wintervakansie gehou, deels om hulle uit die strate te hou, hulle talente te laat ontdek en om hulle weg te hou van dwelms en verkeerde dinge. Hierdie wonderlike inisiatief word gedryf deur die GPF en die SAPD in Groot Brakrivier.
Tien lande met 3 spanne elk gaan deel neem. Die spanne is o/12, ‘n meisiespan en ‘n o/17 span. Vir die eerste keer neem die kleintjies en meer meisiespanne deel. Die lande wat verteenwoordig word is Jamaika, Rusland, Italië, Engeland, Duitsland, Portugal, SA, Brasilië, Switserland en Spanje van Friemersheim.
Wedstryde vind daagliks plaas op die Greenhaven Sportgronde vanaf 10:00 tot 18:00.
Die spanne is reeds hard aan die oefen en die kompetisie is gewoonlik baie straf. Nie te praat van die ondersteuners wat harder kan skreeu as die Stormers ondersteuners.
Natuurlik kan dit nie plaasvind sonder donasies/borge uit die gemeenskap nie. Die organiseerders het al fluks fondse ingesamel, maar kort nog heelwat om die dae’n sukses te maak . Vir bydraes of om ook net uit te vind van al die ander aktiwiteite wat gedurende hierdie tyd gaan plaasvind, kontak asseblief Konstabel Crowley 074 645 7777 of Jorrie Jordaan 083 324 1947.
Ondersteun asseblief die GPF en die SAPD Groot Brakrivier wat te midde van heelwat ander uitdagings wil bou aan ons land se toekoms!

previous post
next post