16 C
Mossel Bay
26th Sep 2023
Arts & CultureCommunity & LivingCrafts and hobbiesEvents & EntertainmentGeneral knowledge

JY MAG SPEEL!

Die afgelope maand se wonderlike winterreën het voorwaar seën uitgespreek oor Karoo-boere, opvangsdamme, riviermonde en -lope. Natuurlik gaan dit gepaard met klein uitdagings soos lekkende dakke, nat klere en kinders wat nie buite kan speel nie – tipies van die verloop van die lewe. 

Dit is juis in die meer binne dan buite dat ek instem toe ek die uitnodiging kry na ’n “gelli print”-werkswinkel. Die eerste herinnering wat by my opkom, is wat vir my grillerige groen, rooi en geel jelliepoeding is, veel erger as dit wat sommige basaarpoeding of “trifle” noem. Nie een het ooit groot byval by my gevind nie.

Voor die werkswinkel kom daar ’n lastige resep op die WhatsApp-groep. Dit bevat die bestanddele vir die maak van jou eie “gelli print pad”. Gou besef ek hierdie resep laat geen ruimte vir inisiatief nie – moenie klits en roer nie, die grootte en diepte van die bak en nog word uitgestip.

En so breek die groot dag aan. Toegerus met “gelli pads”, voorskote, wasgoedpennetjies en vele meer arriveer ons in die gietende reën. In ’n japtrap word ons touwys gemaak: moenie die rollers in die verf meng nie, ook nie te veel opvryf of te lank vryf nie. Een hand vervang die ander hand terwyl ons die instruksies van die kleurvolle persoonlikheid volg. Sy praat vinnig, entoesiasties en meelewend. Ek wonder of ek die enigste een is wat die swart verfstreep teen haar wang wil afvee want niemand sê ’n woord nie. Elkeen eksperimenteer by sy werkstasie, met kort-kort ’n gilletjie wanneer die afdruk suksesvol uitkom.

Na die dag se lewensinspuiting het groen, rooi en geel jellie plek gemaak vir magenta, indigo en turkoois. Van aangename kennis tot totsiensdrukke en nommers uitruil; van wit blaaie tot kleurvolle afdrukke van blom- en blareskeppings; van onsekerheid en vrese tot ’n ligte gemoed en selftrots. Dit alles in die stil verbygaan van tyd. Die eenvoud van speel en verlore raak op ’n onbekende wandelpad wat lei tot die ontdekking van ’n woud.

Wat moet gebeur in jou lewe alvorens jy besef dat jy maar mag speel, dat jy kan speel. Skep die ruimte vir speel … in sonskyn en in reënweer.

Related posts

SENSE OF HEAT AND TOUCH RESEARCH WINS NOBEL PRIZE

James Callagher

NINE WAYS TO SAVE FUEL

Automobile Association

GOEDVOEL-OOMBLIKKE

Laurinda Smit

DIE KUNS VAN VERVALDATUMS

Laurinda Smit

“SWEET” 16?

Stefanie Minnaar

HOW MUCH DO OUR LIFESAVERS MEAN TO OUR SEA SHORE VISITORS?

Ronald Hacquebord