Kabeljou is van die gewildste vis op die spyskaart vir rots- en strandhengelaars. Die kabeljou in die Suid-Kaap word heelwat groter as dié aan die weskus van Suid-Afrika; gevolglik is ’n 100-pond kneuwel nie vreemd onder die manne wat ken nie!
Hengelaars begin so spesialiseer in verskillende tegnieke om die kopstampers te flous dat dit amper onmoontlik raak om in alle fasette te presteer. Ons dink aan gewone aasgooi soos sardyn, tjokka, lewendige harders, seekat-tone en ’n reeks verskillende tipes kuns-aas wat wissel van lepels, rubber-vissies en selfs soutwater-loodkoppe. Pienk is ’n uiters gewilde kleur hier by ons, selfs in riviere soos Kleinbrak en Gourits.
Ek wil egter fokus op ’n gooi-aas met ’n kwaliteit-sirkelhoek. Kabeljoue se groot bekke verg groter hoeke en daarom is Mustad se nr. 6/0-9/0 tuna-sirkelhoeke ’n goeie keuse. ’n Semi-glystrop werk uitstekend, want dit gee die kabeljou kans om die aas te sluk voor hy die gewig van die sinker voel. Onthou dat sirkelhoeke die vis self vang. Wag tot die lyn behoorlik styftrek of die katrol begin sing voordat jy vasmaak. Menige visse word verloor deur ongeduldige stokslaners wat kap voordat die vis die aas sluk.
Die sinker word aan ’n vrybewegende metaalgewrig (swivel) vasgebind, wat nie direk aan die hooflyn vasgemaak word nie. Die hooflyn gly net daardeur.
Mustad-tuna-sirkelhoek met ’n “Dingle-Dangle”
Die “Dingle-Dangle” is ’n moderne metode om ’n mooi stukkie aas te bied. Dit bestaan uit ’n stuk draad of dun kabel met ’n lus aan beide kante. Een lus word dan met warm rekband (heat shrink) toegemaak. Tussen die lusse, op die hoofdraad, is daar gewoonlik ’n stuk dryfskuim wat die aas van die bodem af optel. Verskillende groottes “dangles” is beskikbaar – die lengte wissel van 3-8 cm en die dikte van 1-2cm.
’n Netjiese asie word om die skuimgedeelte vasgedraai. Druk ’n sirkelhoek deur die een draadlus met die rekkrimp bo-oor, wat verhoed dat die hoek net uitgly. Die hoek staan dan mooi oop om die vis te haak.
Laastens word die ander punt van die “Dingle Dangle” se lus aan ’n draadsinker gehaak om maksimum afstand te kry met die ingooi.
Kabeljoue hou van gekleurde skuimwater, vermy dus dooie diep skoon water. Soek gerus struktuur soos sandbanke met sloepe. Stoot- en sakwater lewer dikwels goeie resultate, veral vanaf skemer die nag in. Hommeltuie (drones) raak deesdae gewild onder hengelaars aangesien groot ase op die agterste sandbanke en sloepe gevlieg kan word waar die groot menere wei.
Harten-Hengel Outdoor (https://www.facebook.com/groups/261383610996998), Kleinbrak; Die aas aan my hoek … en ander geheime en Reading the Sea … and other secrets of sea angling, Nickie Louwrens; www.ultimateangling.co.za