Die motorfietsmark is ‘n dinamiese omgewing met verskillende mark-verskuiwings en tendense. Soos motorbestuurders se voorkeure beweeg het van sedans na sportnutsvoertuie, het motorfietsryers se keuse grootliks verskuif vanaf sportfietse na sogenaamde avontuur motorfietse. Behalwe vir die groot ooglopende skuiwe, is daar ook onderlinge tendense. Een van die interessantste is die grondswel onder die kleiner motorfietse, so rondom 300cc. Hierdie is ‘n segment wat lankal aandag nodig het. Die sprong van 125cc na 600cc is darem nét te groot en fietse so rondom 300cc maak ideale pendelfietse. Dit lyk asof die al groot fabrikate die leemte raakgesien het en nou probeer vul. KTM se 390 Duke doen diens in die arena en meer onlangs het BMW ook hul G310R bekend gestel. Daar is ook verskillende aanslagte. Terwyl die BMW en KTM modelle staatmaak op ‘n enkel-silinder enjin is Kawasaki se Z300 en 300 Ninja toegerus met ‘n seepgladde twee-silinder. Dis nou juis hier waar dinge interessant raak. Selfs die klein-cc segment van die motorfietswêreld kan nie die avontuurgier van motorfietsvoorkeur vryspring nie. KTM werk aan hul 390 Adventure, BMW het kort op die hakke van die G310R ‘n G310GS avontuur weergawe vrygestel en uit die Kawasaki stal het die Versys X-300 te voorskyn gekom.
Die Versys X-300 beskik oor dieselfde twee-silinder kragbron as sy pad georiënteerde boeties, wat hom ‘n heel ander karakter gee as die enkel-silinders van die kompetisie. In sy primêre doel as pendelfiets presteer die Versys bo gemiddeld. Die twee-silinder enjintoere hardloop vrylik en lewer ‘n skaflike 29kW/40pk. Om dit in perspektief te stel, dis amper net soveel krag as wat die KLR650 gelewer het, maar in die twee-silinder kom die krag eers teen 11500 toere. Die vrylopende enjin in die ligte fiets gee die Versys ‘n lekker lewendige karakter. As die toere eers aan die kook is voel die fiets heerlik lig en swiep gemaklik deur die draaie, terwyl die windskerm besonder effektief is om die wind af te keer. Ook in die verkeer is die regop sitposisie en gevolglike uitsig oor die verkeer baie welkom en met ‘n top snelheid wat draai by die 160km/h kan jy gemaklik met snelwegverkeer byhou terwyl sluitweerremme seker maak dat jy betyds kan stop. Die koppelaaraksie is een van die ligste wat ek nog teëgekom het en die instrumentasie is volledig en maklik om te lees.
Breek die naweek aan moet die Versys sy sekondêre hoed op sit. Die van avontuurmotorfiets. Hier help dinge soos ‘n 19-duim voorwiel en 17-duim agterwiel, asook ‘n grondvryhoogte van 180mm dat jy enige grondpadroete sal kan baasraak. Selfs die boendoes in is die ligte fietsie ‘n plesier. Die feit dat die Versys slegs 175kg (nat) weeg tel groot in sy guns en ‘n 17-liter brandstoftenk gee ‘n lekker reikwydte van om en by 400km, afhangende van jou rystyl. Daar is ook ‘n reeks bybehore beskikbaar vir jou naweekavonture, soos 17-liter sytasse en traliewerk vir daai keer of wat wat jy gaan omval. Daar is selfs voorsiening gemaak vir ‘n kragsok op die instrumentpaneel.
So is daar iets waarvan ons nie gehou het nie? Wel, ons sou verkies dat die sluitweerremme kon afskakel as jy op die grondpad ry. En die aard van ‘n twee-silinder is so dat jy nie die krag het by lae toere, soos jy dalk sou wou as jy stadig oor baie tegniese terrein moet beweeg nie. Maar dan moet in gedagte gehou word dat jy miskien 1% van die tyd jouself op sulke terrein gaan bevind en die ligte koppelaaraksie maak in elk geval korte mette van daai probleem. Vir die res, op die oop pad en in die verkeer, is die twee-silinder definitief beter. Waar die enkel silinders uit asem uit raak op die snelweg hardloop die Versys se toere nog vrylik op. Die KTM 390 Adventure is nog nie beskikbaar nie, maar met meer as 10% meer krag as die ander Germaan, en ‘n 20km/h hoër top snelheid is die Versys X-300 heelwat meer pret in sy primêre doel as pendelfiets, terwyl hy nie gaan terugstaan op ‘n avontuurnaweekrit nie.
Die Kawasaki Versys X-300 verkoop vir R75 500.